’n Voormalige musiekonderwyser by ’n gesogte skool in die Paarl, wat verlede jaar in ’n interne ondersoek aan seksuele teistering skuldig bevind is, is onlangs weens verkragting in hegtenis geneem.

’n Amptelike klag is verlede week by die polisie ingedien, hoewel die interne ondersoek by die plaaslike skool verlede jaar in Oktober al afgehandel is.

Hoewel Bronagh Hammond, ’n woordvoerder vir die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD), verlede jaar gesê het ’n nota is by die betrokke onderwyser se persoonlike rekord geplaas, wat verhoed dat hy in die toekoms weer as ’n staatsamptenaar of onderwyser aangestel kan word, is einde verlede maand bevind hy werk nou by ’n skool in die Overberg.

Sy het toe bevestig: “Die betrokkene is uit sy vorige skool ontslaan. Die vorige skool het in Julie 2022 bewus geword van beweerde seksuele teistering van ’n leerder. Die opvoeder was destyds ’n skoolbeheerliggaam-aanstelling. Die opvoeder is onmiddellik geskors en is nie toegelaat om op die perseel [van die skool] te wees hangende die ondersoek nie.

“Die skoolbeheerliggaam, as die werkgewer van die betrokke opvoeder, het ’n onafhanklike arbiter aangestel om die tugverhoor te behartig. Die opvoeder is skuldig bevind en op 25 Oktober 2022 ontslaan.”

Nadat die nuus van die onderwyser se aanstelling by ’n Overbergse skool bekend geword het, het die WKOD amptenare na die skool gestuur om ondersoek te gaan instel. Hulle het die man gevra om die perseel onmiddellik te verlaat.

Dit is nog nie duidelik hoe hy deur die stelsel geglip het nie, maar dit word deur die departement ondersoek. Hammond sê dit is kommerwekkend dat hierdie man leerders by ’n skool in die Overberg-distrik onderrig het – ook as ’n skoolbeheerliggaam-werknemer.

Volgens Hammond doen die departement agtergrond­ondersoeke wanneer dit by potensiële werk­nemers kom. Sy sê dieselfde agtergrond­ondersoeke behoort gedoen te word wanneer ’n skoolbeheerliggaam ’n aanstelling doen.

“Hy sou nie in diens van die WKOD kon wees nie, aangesien ons ’n blokkering op Persal, ons personeel- en salarisstelsel, geplaas het. Die departement gebruik streng prosesse wanneer nuwe permanente werknemers aangestel word. Met betrekking tot ’n skoolbeheerliggaam-aanstelling moet enige mens of opvoeder, wat met ons leerders werk, aan dieselfde streng kontrole voldoen wat die WKOD uitvoer voordat enige aanstelling deur ’n skoolbeheerliggaam gedoen word.”

Die onderwyser het Maandag (20 November) die eerste keer op aanklag van verkragting in die Paarl-landdroshof verskyn. Hy kom op 27 November weer voor vir ’n borgtogaansoek.. A former music teacher at a prestigious school in Paarl, who was found guilty of sexual harassment during an internal investigation last year, was recently arrested for rape.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article