Daar is gate aan albei kante van die dak bo-oor die gedenkmuur en boonop moet ’n mens sukkel om by geliefdes se grafte uit te kom weens die opeenhoping van grafte en onkruid wat hoog tussen grafstene groei.
Só beskryf sommige inwoners die toestand by die Parys-begraafplaas in die Paarl, wat volgens hulle dringend aandag nodig het.
Eugene du Plessis, ’n inwoner van die Paarl, het Paarl Post vandeesweek deur die begraafplaas geneem en sy ongelukkigheid oor die toestand van die perseel uitgespreek.
Hy sê ’n begraafplaas is veronderstel om ’n plek te wees waar jou gewese geliefdes in waardigheid kan rus.
“Dit is egter nie die geval by hierdie begraafplaas nie. Soos jy kan sien, is daar gate in die dak van die gebou waarin jy die gedenkmuur aantref. Die gebou is ook binne in ’n baie slegte toestand. Daar’s geen werkende ligte nie, so dis donker, selfs deur die dag. Jy sal amper nie eens jou geliefdes se name teen die muur kan vind nie.”
Du Plessis het ook sy kommer uitgespreek oor die onkruid wat al kniehoogte tussen die grafte groei.
“Dit lyk nie net onnet nie, maar dis ook baie onveilig. Ek is bang om daarin te beweeg, want wie weet watter tipe slange wag vir jou daar. My groot vraag is – wie is verantwoordelik vir die instandhouding van hierdie plek?
“As dit die munisipaliteit is, sal hy moet opskud, anders sal inwoners maar self hande moet vat om hierdie perseel in stand te hou. Ons kan dit ’n meer verwelkomende plek maak deur byvoorbeeld sitplekke daar by die gedenkmuur op te rig. In hierdie stadium is daar nie eens ’n enkele sitplek nie.”
Du Plessis het intussen deur middel van ’n plasing op een van die gemeenskap se Facebook-groepe na inwoners uitgereik om die gemeenskap aan te moedig om self die verantwoordelikheid vir die instandhouding van die begraafplaas te neem.
Gerald Esau, die Drakenstein-munisipaliteit se uitvoerende direkteur vir gemeenskapsdienste, het by navraag aan Paarl Post gesê instandhouding by die Parys-begraafplaas sowel as by alle ander in die munisipaliteit is sy (Drakenstein se) verantwoordelikheid.
“Ons het ’n geboue-instandhoudingsafdeling wat spesifiek fokus op alle geringe instandhouding van geboue in ons begraafplase. Die gemeenskapsdiensteafdeling is tans besig om infrastruktuur-kwessies by hierdie afdeling aan te meld sodat hulle in dié verband kan help.”
Wat die onkruid en gras tussen grafte betref, sê Esau dit word wel gereeld gesny. “Om ons diensstandaarde te handhaaf, sny die munisipaliteit die gras by begraafplase op ’n kwartaallikse basis. Ons instandhoudingspanne is juis tans besig om grassnydienste by die Parys-begraafplaas voort te sit,” het hy Dinsdag (21 November) gesê.
Esau sê “dit is egter belangrik om daarop te let dat die hele munisipale gebied vanjaar buitengewoon hoë reënval ervaar het, wat gelei het tot gras en onkruid se ongewone groei.”
Hy het ook erken die meeste van die begraafplase in die munisipaliteit het bykans hul kapasiteit bereik. ’n Nuwe begraafplaas word in die Nieuwedrift-omgewing in Paarl-Noord ontwikkel.





