Kom geniet ’n lekker fliekaand op 7 Desember by Simonsvlei-wynlandgoed met die vertoning van ’n splinternuwe Afrikaanse rolprent, #Lovemyselfie.
Om kaartjies te koop, besoek www.lovemyselfie.co.za – kyk ook uit vir ander vertonings wat binnekort op die webwerf aangekondig sal word. Sou jy belangstel om die rolprent in jou gemeenskap of by jou behuisingslandgoed, gemeenskapsaal of enige ander gepaste venue te wys, kontak die bemarkingspan op die webblad.
Toe die plaaslike televisiester Adele Swan besef haar verloofde het al haar spaargeld verkwansel en by ’n Gen Z-beïnvloeder slaap, besef sy die tyd is ryp om te wys wat nog in haar steek! Adele het geen ander keuse nie as om die vertoning van haar lewe op te dis om aan almal te bewys sy steeds relevant.
’n Betroubare kunstebeskermheer en eiendomsmagnaat, George, bied aan haar ’n geleentheid om haar skuld te delg – mits sy instem om die gesig van sy veldtog te word – ’n kompetisie op ’n luukse plesiervaart om die eksklusiewe eenhede van die Silwer Eike-aftreelandgoed te verkoop.
Dit is ’n groot slag vir Adele se ego toe sy agterkom dat sy aan die Survivor for Seniors-kompetisie aan boord die skip sal moet deelneem.
Dis egter ’n verrassing toe sy haar in dieselfde span bevind as Winnifred, ’n ou skoolvriendin, wat weer die deure na Adele se langvergete verlede open.
Die vaart word veel meer as ’n langverwagte plesiervaart-vakansie.
Vier vroue wat ouer as 60 is, onderneem ’n reis na binne en ontdek dit is nooit te laat om jouself te ontwikkel en selfs te verander nie.
. Een gelukkige Paarl Post-leser kan ’n dubbelkaartjie na die vertoning wen. WhatsApp die naam van een van die akteurs na 066 484 3728 teen 28 November om ’n kans te staan om te wen.





