Werk van fotograwe wat lid is van Paarl-fotografieklub is gekies vir ’n unieke uitstalling deur 171 fotograwe van 21 Wes-Kaapse klubs, wat tot 31 Desember by die Groot Constantia-wynlandgoed besigtig kan word.

Die uitstalling in die wynproekelder op die landgoed is besonders, want dit is die eerste keer dat soveel klubs saamwerk om hul beste fotograwe se werk uit te stal.

Cape Town Photographic Society (CTPS), die eerste fotografieklub en wat in 1890 in Suid-Afrika gestig is, het die uitstalling namens die ander klubs in die streek saamgestel.

Altesaam 16 senior klubs van oor die Wes-Kaap heen het die uitnodiging aanvaar om werk van hul beste fotograwe aan die talle besoekers aan die gewilde toeristebestemming te vertoon.

Daarbenewens neem vyf skoolklubs ook deel.

Die uitstalling se titel, Celebration of Photography, is inderdaad gepas aangesien dit ’n fees is van foto’s van gehalte wat deur die streek se amateurfotograwe geskep is. Pleks van om teen mekaar in die gebruiklike jaarlikse Interklub-kompetisie mee te ding, het die klubs vanjaar besluit om saam te werk om aan die publiek te wys dat fotografie ’n kunsvorm is wat waardig is om teen mure uitgestal te word. Talle van die werk in die uitstalling het nasionale en internasionale pryse gewen.

Die foto’s illustreer ook die verskeidenheid genres en tegnieke wat klubfotograwe baasgeraak het – landskappe, portrette, wildlewe, visuele kuns en abstrakte werke is van die soort foto’s wat in swart en wit en in volkleur gesien kan word.

Die deelnemende klubs vergader oor die Skiereiland heen en in plattelandse dorpe so wydverspreid soos Paternoster, Wolseley, Worcester en Hermanus. Hulle is verenig deur die gedeelde doelwit om die genot van fotografie onder hul lede te bevorder en hulle die geleentheid te bied om hul vaardighede te verbeter. Die klubs wat by skole gebaseer is, is deur senior klubs onder die vlerk geneem, wat hulle die kuns help bemeester. Talle van die leerlinge het reeds pryse gewen met hul foto’s en is ook lede van senior klubs.

Die uitstalling word gehuisves in die wynproekelder van Groot Constantia – Suid-Afrika se oudste wynlandgoed en een van die Kaap se gewildste toeriste-bestemmings.

Die uitstalling is tot 31 Desember daagliks van 10:00 tot 17:00 oop en toegang is gratis.

. Kontak Leney Stipp by gatskopmamma@gmail.com of 084 254 0686 Vir meer inligting oor Paarl-fotografieklub.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article