Eenheid, samehorigheid en aanspreeklikheid is van die belangrike bestanddele wat noodsaaklik is in die verhouding tussen die Drakenstein-munisipaliteit en verskeie gemeenskapsorganisasies soos belastingbetalersverenigings in die doel om ’n omgewing te skep waarin inwoners dienslewering ontvang wat waarde vir hul geld is.
Só het David Frost, voorsitter van die Paarl-belastingbetalersvereniging, vandeesweek aan Paarl Post gesê. Hy beklee dié pos sedert Junie vanjaar.
Frost glo die belastingbetalersvereniging vervul ’n kritieke rol om deursigtigheid te bevorder “sodat inwoners weet waar en hoe hul geld bestee word”.
Met ’n agtergrond in die Suid-Afrikaanse Polisiediens, gemeenskapsveiligheid, padveiligheid asook die hoër onderwys, beywer dié afgetrede openbare amptenaar hom vandag om as ’n mondstuk vir die Paarl se belastingbetalers te dien.
Frost het reeds skouers geskuur met verskeie amptenare by die Drakenstein-munisipaliteit, onder wie die munisipale bestuurder, wat volgens hom ontvanklik is vir dit waarvoor die belastingbetalersvereniging staan.
“Om vooruitgang in die stad te bevorder, is daardie interaksie tussen die belastingbetaler en die munisipaliteit van kardinale belang.
“Die idee is om ’n soort forum te skep waar kwellings bespreek kan word en die vereniging insette kan lewer oor belangrike kwessies, soos die jaarlikse begroting en wat ons graag daarby ingesluit wil sien.
“Ons moet gaan kyk na wat die kwessies is wat groei oor die algemeen belemmer en hoe dit opgelos kan word. Dit word alles ter goeder trou gedoen. Dit is een van die belangrike uitgangspunte van die vereniging – dat ’n openheid bestaan met betrekking tot wat die stand van die stad is,” sê hy.
Volgens Frost is een van die groot knelpunte waartoe die belastingbetalersvereniging hom tans beywer, die stand van ’n aantal verlate geboue in die Paarl.
“Een van hierdie geboue is die ou Hugenote-poskantoor en die stand van die Hugenote-stasie as geheel. Dit is iets wat ons pertinent gaan aanpak.
“Ons weet wat in stede soos Johannesburg gebeur met geboue wat gekaap word en afgebrand het.
“Daar is ook talle ander geboue in die dorp waar die situasie onwenslik is. Geboue wat gekaap word, is eintlik ’n oogseer. Dit hou gevare in weens leeglêers en lei gewoonlik tot ’n toename in misdaad in daardie betrokke gebiede.
“Ons maak dit dus ons plig om te gaan kyk hoe hierdie geboue lyk, watter gevare dit inhou, asook watter onwenslike elemente hier gelok word.”
Hy sê dit is egter belangrik om te erken dat daar ’n agterstand in dienslewering op nasionale vlak is en dit dikwels ’n direkte impak op plaaslike regerings het.
Hy voeg by dat dit eers vasgestel moet word wie verantwoording vir verlate geboue moet doen, aangesien regeringsgeboue in die meeste gevalle deur die departement van openbare werke besit word.
“Daar is ’n rimpeleffek van nasionale en provinsiale regeerders op jou plaaslike owerheid. Ons sit dus hier met twee gevalle – een is die verrotting van die nasionale regering, wat ’n direkte uitwerking op dienslewering op plaaslike gebiede het.
“Dit is ook iets wat mense in gedagte moet hou wanneer hulle volgende jaar gaan stem. Hoewel dit ’n algemene verkiesing gaan wees, moet ons in gedagte hou dat ’n interafhanklikheid tussen die verskeie sfere van regerings bestaan.”
Frost is in die ou Wes-Transvaal gebore en het sy skoolloopbaan by Milner High School in Klerksdorp, Noordwes, voltooi.
Hy het sy BA-graad in Polisiewetenskap in 1985 opgevolg met ’n BA-honneursgraad in 1991 aan die Universiteit van Suid-Afrika.
Hy was van 1978 tot 1995 in die polisiediens en was in hierdie tyd in onder meer Goodwood en Rawsonville gestasioneer.
Frost was in sy loopbaan ook aktief by die verkeersafdeling betrokke, waar hy opleiding en bewusmaking oor padveiligheid aangebied het. Hy was onder meer die hoof van die Gene Louw Traffic College in Brackenfell.
Frost woon al die afgelope 35 jaar in die Boland en het in 2017 amptelik die tuig van openbare amptenary neergelê.
Hy besit en bestuur sy eie besigheid al die afgelope ses jaar uit die Paarl wat onder meer fokus op padveiligheid en die redigering van leerlinglisensie-leesstof.
Die Paarl-belastingbetalersvereniging kan bereik word deur vir Anne Kruger, hul sekretaresse, op 072 374 6272 te kontak.




