Rentekoerse het sedert November 2021 skerp gestyg van 7% voor en gedurende die Covid-19-pandemie tot meer as 11% tot op hede, en is veral huiseienaars wat verbande of lenings moet afbetaal, aan die diep kant ingegooi.
Volgens ’n berig van Daily Maverick op 25 Mei vanjaar met die titel “The latest interest rate hike will affect your pocket in several unwelcome ways” sou ’n 20- jaar-lening op ’n huis vanR1 miljoen huiseienaars min of meer R7 800 per maand gekos het, maar tans betaal dieselfde eienaars rofweg R10 800.
’n Verdere nagevolg van die stygende rentekoers is dat verbruikers meer spaarsamig sal leef en die aard van hul besteding sal afskaal om plek te maak vir die stygende rentekoers in hul begroting.
Hierdie landwye uitdaging raak ook die Drakenstein-munisipaliteit se inwoners wat lenings aangegaan het, hetsy dit ’n huislening of ’n ander soort lening insluit, en as ’n gevolg kry sakeondernemings ook swaar omdat verbruikers hul sente moet omdraai.
Volgens Dirk Breytenbach, die voorsitter van Drakenstein Sakekamer, is die stygende rentekoerse veral nadelig vir huiseienaars, maar het ook verduidelik dat sommiges afhanklik is van rente-inkomste, wie die huidige rentekoers voordelig is.
“Huiseienaars is ongelukkig aan die ontvangkant van die negatiewe uitwerking van stygende rentekoerse en kan nie veel daaraan doen as dit [hulle] eers tref nie. Dit kan dalk ’n goeie strategie wees om goed binne jou vermoë te probeer bly wanneer aanvanklike koopbesluite geneem word vir voorsiening vir tye soos hierdie [stygende rentekoers],” sê Breytenbach.
Verdere maatreëls wat ondernemings kan tref om sodoende nie bankrot te raak nie, sluit in om risiko-planne op te stel en in ag te neem, anders kan hulle “onverhoeds betrap word”, het Breytenbach verduidelik.
“[Drakenstein Sakekamer] probeer om sy lede en verbruikers ag te laat slaan op die moontlike rentekoersstygings en dat rentekoersstygings en -dalings ’n bestaande ekonomiese verskynsel is wat almal in ag moet neem. Dit geld vir elkeen wat ’n sakeonderneming het of ’n huiseienaar is, want ons leef in ’n gemengde ekonomiese bestel waar ’n balans gehandhaaf moet word tussen sosialisme en kapitalisme as gevolg van die diverse ekonomiese behoeftes van ons samelewing.”
Volgens Marlize van Schalkwyk van Remax Country Living, wat eiendom in die Paarl en Wellington verkoop en verhuur, het die Remax-tak ’n gewisse daling in huisverkope sedert die styging in rentekoerse ervaar.
Nietemin, as gevolg van die semigrasie uit die Noorde, het huispryse veral in die Paarl en Wellington nie soveel gedaal soos in ander gebiede nie.
Van Schalkwyk het wel genoem aangesien die skerp styging in rentekoerse ook ’n uitwerking op huiseienaars het wat uit die noorde wil semigreer, is die verkope wel effe stadiger omdat dié huiseienaars eers hul huise moet verkoop voordat hulle weer in die Wynlande wil koop.
Die silwer randjie is immers dat al hoe meer mense huur, en dat Remax Country Living se huurboek geweldig gegroei het en hul ook op só manier kop bo water kon hou.
Volgens ’n mediaverklaring van Remax Suid-Afrika het huisverkope in die algemeen in die land verlangsaam.
“Rentekoerse is hoog, inflasie is hoog, en groei in die land se bruto binnelandse produk is stadig. Dit het ’n direkte uitwerking op bekostigbaarheid, wat dan lei tot meer huise wat te koop is as wat daar gekwalifiseerde en gewillige kopers is. Verkopers moet dan die huis billiker prys.
“Dit verseker ’n tydige verkoop, wat uiteindelik lei tot verlaagde gemiddelde eiendomspryse,” verduidelik Adrian Goslett, Remax Suid-Afrika se streekdirekteur en uitvoerende hoof, in die persverklaring.
Nietemin, volgens Goslett ervaar nie alle provinsies dieselfde marktoestande nie, met die Wes-Kaap, Limpopo, Mpumalanga en Noord-Wes waar verkope nie so erg gedaal het soos in ander provinsies nie.




