Young Peoples se seëvierende eerstespan-krieketspelers.Foto:

Credit: SYSTEM

Young Peoples-krieketklub (Die Tiere) het die jaar verlede Saterdag op ’n hoë noot afgesluit toe die eerste en tweede spanne met Malmesbury-krieketklub afgereken het.

Die Tiere se eerste span het in Malmesbury die Swartlanders behoorlik laat les opsê met ’n allemintige 160 lopie-oorwinning.

Vir Young Peoples het die openingspaar, Jade Adams (80) en Bradwin Hollenbach (59), ’n stewige fondasie gelê vir die middelorde-kolwers om ná die einde van hul kolfbeurt die langsteel behoorlik in te lê. Adams en Hollenbach, wat saam 71 lopies vir die eerste paaltjie aangeteken het, het weer eens gewys waarom hulle die twee beste lopiemakers in die promosieliga is.

Met die val van die eerste paaltjie het die Tiere ’n effense insinking beleef toe Lorenzo Jacobs (12) sy paaltjie verloor. Reduwaan Louw (63) sluit hom toe by Adams aan en die twee kasty die boulers na alle uithoeke van die veld. Veral Louw het die oog gevang met ’n paar allemintige sesse.

Vir Malmesbury is dit slegs Donovan Dudley (3/50) wat iets met die bal kon uitrig.

Malmesbury se lopiejaagtog begin op ’n rampspoedige wyse toe die sneller Clint Philander (2/18) gou ontslae raak van sy openingskolwer met die telling op 18. Hierna het die Swartlanders op reëlmaat paaltjies verloor, met die uitblinker vir Young Peoples Duelin Fransman (3/18) wat met sy linkerhandse draaiballe amok onder die kolwers maak. Hy word goed bygestaan deur Lorenzo Jacobs (3/20) en Anwill Andrews (3/18) om die span van Malmesbury vir slegs 126 uit te boender.

. Op Dal Josafat het Young Peoples II, wat tans die ligavoorloper in sy afdeling is, die tweede span van Malmesbury met die kous oor die kop huis toe gestuur. Malmesbury teken 162/10 aan in 45 beurte met R. Vercuil (58) die hoogste lopiemaker vir die besoekers. Cleve Daniels met sy 4/24 en Byron Davids 3/22 het onder die Swartlanders met die bal baljaar.

Die Tiere se tweedes jaag hierdie lopies af in slegs 33.3 boulbeurte, met Davon Pietersen 77*, Kyle Fortuin 41* en Josh Samuels 21 die lopiemakers. Young Peoples II wen die wedstryd met 7 paaltjies.

. Dit was vir Young Peoples-krieket ’n baie goeie eerste gedeelte van die 2023-’24-seisoen, met feitlik al die klub se spanne wat in die toptwee van hul afdelings geëindig het. Die eerste span lê tans tweede, tweede span eerste, derde span eerste, vierde span tweede en die vrouespan eerste in hul afdelings.

Die klub hou Saterdag 16 Desember sy jaarlikse seskant-toernooi op Dal Josafat en nooi alle ondersteuners om die dag te kom geniet.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article