Die Paarl-polisiekantoor in Bergrivier Boulevard.Foto’s: Rasaad Adams


Die Demokratiese Alliansie (DA) in die Wes-Kaap het sy kommer uitgespreek oor beweerde uitlatings wat deur brig. Nokuzola Pete, die nuutaangestelde stasiebevelvoerder by die Paarl-polisiekantoor, op sosiale media gemaak is waarin sy glo sê dat daar nog “wit oorheersing” by dié kantoor is, en sy sal graag wil sien dat hierdie demografie verander.

Pete het vermoedelik vroeër vandeesweek ’n plasing op Facebook gemaak oor die Boland-polisiedistrik se jaareindbyeenkoms waarin sy in die kommentaarafdeling ’n gesprek met ’n kollega (’n luitenant-kolonel) van ’n ander stasie voer.

Brig. Nokuzola Pete, stasiebevelvoerder by die Paarl-polisiekantoor. Foto: Rasaad Adams

In een van haar kommentare sê Pete daar ontbreek juis ’n luitenant-kolonel in die finansiële afdeling van die Paarl-polisiekantoor en dat sy (die kollega) kan aansoek doen om ’n oorplasing.

“Stuur die aansoek in en sê jy moet na Paarl se finansiële afdeling oorgeplaas word. Ons sal dit teken sodat ons hierdie wit oorheersing kan verander, want Paarl is wit,” lui Pete se kommentaar.

Die oorspronklike plasing is intussen verwyder, maar skermgrepe daarvan is sedertdien wyd op sosiale media gedeel deur onder andere Ian Cameron, verbonde aan die organisasie Action Society.

“Wanneer gee ’n volwaardige polisie-brigadier ander polisielede instruksie om vir oorplasings aansoek te doen om ’n stasie minder wit te maak? Verbeel jou net hoe histeries almal sou raak indien ’n wit polisielid hierdie sou kwytraak en versoek dat ’n stasie ‘meer wit’ moes wees,” het ’n plasing deur Cameron gelui.

Pete se Facebook-blad is kort ná enkele media berigte oor haar uitlatings gedeaktiveer.

Dit is in die eerste plek kommerwekkend dat ’n polisielid hierdie uitlatings maak. Dit sê vir ons alles wat ons wil weet rakende hul professionaliteit en bevoegdheid vir leierskap. Veral omdat dit op ’n openbare platform gemaak is.
Gillion Bosman (DA)

Gillion Bosman, die DA se woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid en polisiëring in die Wes-Kaap, het aan Paarl Post gesê hulle beskou die uitlating in ’n ernstige lig.

Bosman is ook die voorsitter van die provinsiale parlementêre portefeuljekomitee oor polisiëring in die Wes-Kaap.

“Dit is in die eerste plek kommerwekkend dat ’n polisielid hierdie uitlatings maak. Dit sê vir ons alles wat ons wil weet rakende hul professionaliteit en bevoegdheid vir leierskap. Veral omdat dit op ’n openbare platform gemaak is.

“Enige bewerings van wit oorheersing of waar daar diskriminasie ter sprake is, is vir die party van kardinale belang en behoort ernstig ondersoek te word. Ek het dit dus my persoonlike plig gemaak om na die provinsiale polisiekommissaris se kantoor uit te reik en te eis dat hierdie uitlating noukeurig ondersoek word,” sê hy.

Bosman sê die enigste gevolgtrekking wat hulle as ’n party in hierdie stadium kan maak, is dat hierdie uitlatings is wat Pete in haar persoonlike hoedanigheid gemaak het.

“Ek sal nie wil glo dat daar ’n groter onderliggende agenda is om polisiekantore oor die algemeen in die Wes-Kaap te transformeer nie. Natuurlik is die inligting wat ons tans tot ons beskikking het maar baie beperk.

“Ons is egter stomgeslaan deur die betrokke beampte se kommentaar en sal wag op terugvoering van die provinsiale kommissaris oor of daar dalk enige spesifieke onderliggende probleme by die Paarl-polisiekantoor is.”

Volgens Bosman eis die party dat Pete se uitlatings deur ’n interne tugkomitee ondersoek word.

“Dit is baie kommerwekkend dat ’n senior polisielid die oënskynlike manipulering van personeel-oorplasings so blatant bespreek. Dit sê vir ons dat daar ’n duidelike probleem heers wat leierskapvermoë by hierdie betrokke kantoor betref.”

Brig. Novela Potelwa, polisiewoordvoerder, het vandeesweek bevestig die polisie in die provinsie is bewus van die beweerde uitlatings en het reeds met ’n ondersoek begin.

“Die Suid-Afrikaanse Polisiediens bly ’n werkgewer van keuse vir alle Suid-Afrikaners, ongeag hul kultuur, godsdienstige agtergrond of seksuele voorkeure,” sê Potelwa.

Intussen het die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) in Paarl-Wes gesê hulle neem ook [met kommer] kennis van Pete se beweerde uitlatings.

“Die GPF, spesifiek die buurtwagte wat hy verteenwoordig, en ook die breër gemeenskap, beskou hierdie insinuasies in ’n uiters ernstige lig. Enige optrede deur ’n SAPD-beampte wat die vertroue en werksverhoudinge tussen die GPF en die SAPD ondermyn, sal ten sterkste veroordeel word en ons sal ’n beroep doen om die verwydering van so ’n beampte. Ons het hartlike verhoudings gehad met die vorige waarnemende stasiebevelvoerder en ons sien daarna uit om nou saam met die polisie te werk om ons gemeenskappe veilig te maak,” het Leon Bester, voorsitter van die Paarl-Wes GPF, in ’n verklaring gesê.

Pete is onlangs van die Gugulethu-polisiekantoor na die Paarl as stasiebevelvoerder oorgeplaas.

Sy het ook dié amp van 2014 tot 2020 by die Caledon-polisiekantoor in die Overberg beklee.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article