Kerskoekies maak ook goeie geskenke.Foto:

Credit: SYSTEM

Met die fees- en vakansietyd wat op ons drumpel is, is dit die geskikte geleentheid om te begin bak en brou.

Vir talle is koekies – nie net vir hul eie koekblikke nie, maar ook as geskenke – eerste op hul prioriteitslys.

Hier is ’n paar lekker koekieresepte om van te kies en te keur, asook om jou geliefdes mee te bederf.


Gemmerbroodmannetjies:
(Sowat 50 klein mannetjies met ’n uitdrukker van 5×5 cm). 125 g (135 ml) botter. 100 g (125 ml) bruinsuiker. 1 eiergeel. 350 g (625 ml) koekmeel. 5 ml koeksoda. 15 ml fyn gemmer. 40 ml gouestroop

Verhit oond tot 180 ºC. Voer ’n bakplaat met bakpapier uit. Room botter en bruinsuiker goed saam tot lig en romerig. Voeg eiergeel by en klits goed.

Sif koekmeel, koeksoda en gemmer saam. Voeg droë bestanddele en stroop geleidelik by bottermengsel.

Meng goed ná elke byvoeging. Knie mengsel goed op werkoppervlak.

Rol deeg uit tussen twee lae waspapier tot ongeveer 3 mm dik.

Druk uit met ’n mannetjie-koekie-uitdrukker.

Plaas koekies op die uitgevoerde bakplaat en bak vir 10 minute.

Sodra dit afgekoel het, versier met versiersel.


Outydse soetkoekies:

. 3 koppies koekmeel. ½ tl koeksoda. 1 t fyn gemmer. ½ t fyn pypkaneel. ½ tl neutmuskaat. ½ tl fyn naeltjies. ½ tl kremetart. 1 koppie botter (of margarien). 2 groot eiers. 1 koppie witsuiker. ’n knypie sout

Klop botter en suiker saam tot glad.

Voeg dan eiers een vir een by en meng goed.

Sif meel, kremetart, koeksoda, speserye en sout saam.

Meng goed by bottermengsel om deeg te vorm.

Laat rus deeg oornag in die yskas.

Voorverhit oond tot 200 ºC.

Rol die deeg dun uit en druk vormpies uit. Plaas op gesmeerde bakplaat en bak vir so 10 minute – tot goudbruin.

Pasop dat dit nie brand nie.

Sodra die koekies afgekoel het, versier dit met versiersel.

Botterkoekies:. 10 ml (2 t) bakpoeier . 4 x 250 ml (4 k) koekmeel . knippie sout . 300 ml (1¼ k) suiker . 250 g Stork-margarien. 2 eiers . Geglasuurde kersies, gekap

Verhit die oond tot 180 °C.

Smeer ’n paar bakplate.

Sif die droë bestanddele saam.

Voeg die suiker by en meng goed.

Vryf die margarien by die mengsel in.

Klop die eiers en voeg dit by die mengsel.

Meng tot ’n stywe deeg vorm, maar moet dit nie te veel hanteer nie.

Rol die deeg uit op ’n meelbestrooide oppervlak en druk vormpies uit.

Versier met kersies of Smarties of iets soortgelyk na smaak.

Plaas op ’n bakplaat en bak 12-15 minute tot gaar.

Moenie die koekies te bruin laat bak nie.

Laat effens afkoel op die bakplaat en laat dan heeltemal afkoel op ’n draadrakkie.

Bêre in ’n lugdigte houer.

Klapperkoekies:. 250 g margarien. 330 ml suiker. 100 ml klapper. knippie sout. 500 g bruismeel. 3 eiers. 5 ml vanielje. Ekstra klapper om koekiedeeg in te rol.

Klits margarien en suiker goed saam en voeg dan die sout, meel en klapper by.

Meng nou die eiers en vanielje by totdat gladde deeg vorm.

Breek stukkies deeg af en rol klein balletjies daarmee. Rol in ekstra klapper en plaas op gesmeerde bakplaat.

Druk dan op bakplaat plat met die agterkant van ’n vurk.

Bak vir 10 minute tot effe bruin in ’n 180 °C-oond.

Laat dit afkoel en bêre in ’n lugdigte houer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article