Met nog maande om te gaan in die veldbrandseisoen, was hierdie seisoen ’n nagmerrie tot dusver.
Dit is die siening van verskeie brandbestrydingsagentskappe, want gedurende Desember is sowel die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit, Drakenstein-munisipaliteit en die private niewinsgewende instansie, Drakenstein-plaaswag (DFW), byna 24 / 7 deur wegholbrande oorval.
Kort ná Kersfees is die Paardeberg- landbougebied erg getref toe ’n brand vir dae lank daar gewoed het, aangehits deur sterk winde en die voortslepende droë weerstoestande. Ongeveer 2 000 hektaar fynbos en landbougrond is verwoes.
Terug in die Paarl-gebied het brandbestryders hul hande vol gehad met veral grasbrande wat daagliks voorgekom het.
Kommer word ook uitgespreek dat hierdie brande waarskynlik deur kwaaddoeners gestig word.
In die omgewing van die Boland-stadion het die veld drie keer na mekaar gebrand. Daan van Leeuwen Boomkamp van die DFW het gesê dat hulle in die omgewing ’n groot brand geblus het.
Etlike minute nadat hulle teruggekeer het na hul basis, was daar egter weer ’n inferno in hierdie gebied.
“Dit was ’n duidelike teken van brandstigting. Dit is duidelik dat iemand met ons ’n speletjie gespeel het. Ons het die polisie gevra om te help maar dit was vrugteloos.”
In die Dutoitskloof-berge was daar ook weer brande, waarskynlik begin deur ’n godsdiens-groep wat onwettig saamtrekke daar hou.
Nog ’n probleem wat weer opgevlam het, sê Boomkamp, was die informele inisiasieskool op die Bodal-pad. Dié situasie hier is al jare lank ’n probleem vir die omliggende gemeenskap, met hordes mense wat in inisiasie-tye vanaf elders hier toesak en die pad basies toekamp en vure maak.
In hierdie gevalle was die DFW- brandspanne gou op die toneel om ’n katastrofe te verhoed.
Boomkamp het gesê Desember was uiters uitdagend vir DFW wat gereageer het op 34 ernstige brande wat hierdie nie-winsgewende organisasie – wat net staatmaak op vrywilligers, ledegelde en donasies – met ’n totale koste van R560 000 gelaat het om hierdie brande te bestry.
Hierdie koste plaas groot finansiële druk op die plaaswag, het hy gesê.
“Dit was nog nooit so erg nie. Dit is ook weens die hoë temperature en groot hoeveelheid lang gras en plante, wat welig is omdat daar onlangs goeie reën geval het. Maar brandstigting bly die grootste probleem. Nou betaal ons die prys.
“Ons vra gedurig dat wetstoepassingsbeamptes saam met ons na tonele gaan, want dit gebeur gereeld dat ons sien hoe iemand ’n brand stig op ’n plek, weghardloop en nog een stig by ’n ander punt.
“Hoekom hulle dit doen, kan ons nie sê nie. Ons help net waar ons kan.”
Reaksie deur Eda Barnard, Uitvoerende Direkteur: Openbare Veiligheid, Drakenstein-munisipaliteit
Navraag
Is dit moontlik om ’n opsomming te gee oor hoeveel brandvoorvalle jul brandweerdienste moes bywoon die afgelope feesseisoen?
Barnard het gesê hierdie brandseisoen het veel vroeër afgeskop het as wat verwag is.
Die aantal brande wat Drakenstein se brandweerdienste bygewoon het oor die feesperiode van 22 Desember tot 4 Januarie is soos volg:. Gras- en bosbrande: 103. Geboue: 4. Brande geblus voor aankoms: 12. Informele wonings: 2
“As deel van ons ooreenkoms met die Stad Kaapstad en die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit het ons ook hulp aan mekaar verleen wanneer addisionele bystand benodig word om brande in die onderskeie gebiede te blus. Een so ’n voorbeeld waar ons brandweerdienste bystand gelewer het, was die brand in Simonstad.
“Ons het ook groot waardering vir die dienste en ondersteuning wat aan die brandweer gebied word deur die Drakenstein Farm Watch.”.The Groot-Drakenstein municipal area has been ravaged by fires over the last month with the cause of many of these fires being blamed on arson.





