Solidariteit eis skorsing van Paarl-polisiehoof ná ‘rassistiese’ opmerkings

Nokuzola Pete, bevelvoerder by die Paarl-polisiekantoor.Foto: Rasaad Adams


Terwyl die Wes-Kaapse polisie bevestig het dat ’n interne ondersoek begin is ná beweerde rassistiese opmerkings deur die bevelvoerder van die Paarl-polisiekantoor, eis Solidariteit dat dié plaaslike polisiehoof geskors moet word en dreig dat hy ’n hofbevel sal bekom om haar uit haar amp te verwyder.

Die Vryheidsfront Plus (VF Plus) in Drakenstein eis ook dat sy ’n openbare verskoning moet uitreik.

Brig. Nokuzola Pete het in Desember verlede jaar die Paarl-polisiekantoor in die kollig geplaas toe sy glo in ’n Facebook-inskrywing gesê het dat daar “wit baasskap” (white supremacy) by dié polisiekantoor heers en sy graag wil sien dat dit verander.

Pete het hierdie uitlatings gemaak in die kommentaarafdeling van haar plasing oor die Boland-polisiedistrik se jaareindbyeenkoms waarin sy en ’n kollega (’n luitenant-kolonel) van ’n ander kantoor oor en weer met mekaar gesels het.

In een van haar kommentare sê Pete daar ontbreek juis ’n luitenant-kolonel in die finansiële afdeling van die Paarl-polisiekantoor en dat sy (die kollega) kan aansoek doen om ’n oorplasing.

Dié inskrywing, asook Pete se Facebook profiel, is sedertdien van Facebook verwyder.

Die Paarl-polisiekantoor.Foto’s: Rasaad Adams

Kol. Andrè Traut, ’n polisiewoordvoerder in die Wes-Kaap, het vandeesweek by navraag aan Paarl Post bevestig dat Pete departementeel ondersoek sal word.

Traut kon nie sê watter gedragskode Pete moontlik oortree en voor ondersoek word nie.

“Hierdie is ’n interne proses tussen die betrokke werknemer en haar werkgewer, dus kan ons nie die meriete van die ondersoek met derde partye bespreek nie,” het hy gesê.

Dit is absurd en sy behoort deur die Suid-Afrikaanse polisiediens aangetree te word vir haar gedrag en uitlatings. Sy behoort haar te skaam vir haar opmerkings en moet eintlik om verskoning vra.
André Fourie, VF Plus-raadslid

Die VF Plus in die Drakenstein-munisipaliteit meen egter Pete se opmerkings is “skandelik” en eis dat sy om verskoning vra.

“Vir ’n persoon in haar amp om te kom sê hier is te veel wit polisielede is absoluut skokkend. Wat moet daardie polisielede nou doen? Moet hulle nou die land verlaat en nêrens in Suid-Afrika aangestel word nie?

“Dit is absurd en sy behoort deur die Suid-Afrikaanse polisiediens aangetree te word vir haar gedrag en uitlatings. Sy behoort haar te skaam vir haar opmerkings en moet eintlik om verskoning vra,” het raadslid André Fourie aan Paarl Post gesê.

Ronel Stander, verbonde aan Solidariteit in Bellville, het by navraag gesê hulle is baie verbaas dat Pete nog nie geskors is nie.

“Rassisme is een van die ernstigste oortredings binne die polisie en die werkgewer is gewoonlik baie vinnig om op te tree teen diegene wat hulself skuldig maak aan beweerde rassisme of self vals rassisme.

“Pete is ’n senior amptenaar wat in bevel is van ’n hele polisiekantoor en moet te alle tye ’n voorbeeld wees vir haar lede en die gemeenskap aan wie ’n diens gelewer moet word.

“Haar uitlatings is uiters onaanvaarbaar en kan nie geduld word nie. Die feit dat haar uitlatings op sosiale media gemaak is, vererger die graad van die beweerde oortreding,” sê Stander.

Haar uitlatings is uiters onaanvaarbaar en kan nie geduld word nie. Die feit dat haar uitlatings op sosiale media gemaak is, vererger die graad van die beweerde oortreding
Ronel Stander, Solidariteit

Sy sê indien die provinsiale polisiekommissaris nie binne hierdie week die nodige stappe implementeer nie, “sal Solidariteit nie skroom om van alternatiewe platforms gebruik te maak om toe te sien dat geregtigheid geskied nie”.

“Die moontlikheid van ’n hofinterdik word nie uitgeskakel nie.

“Daar is reeds ’n interne ondersoek gedoen wat wel ’n prima facie-saak bewys het en die ondersoek is al meer as ’n maand terug na die provinsiale kantoor gestuur met die versoek van skorsing asook die aanstelling van ’n verhoorspan om die saak te hanteer,” het sy bygevoeg.

Paarl Post het vandeesweek vertroulik verneem dat Pete steeds by die polisiekantoor as bevelvoerder werk.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article