Die R301-pad wat die Paarl met Franschhoek verbind.Foto: Rasaad Adams


Ten spyte van talle klagtes van motoriste en inwoners in die omgewing van Boschenmeer en Val de Vie oor erge verkeersontwrigting is onlangs onthul dat die verbreding van die R301-pad tussen die Paarl en Franschhoek waarskynlik eers teen einde Julie vanjaar voltooi sal wees – met konstruksie wat reeds in Junie 2022 begin het.

Die konstruksie behels die uitbreiding van die R301 van ’n enkel- na ’n dubbelbaan.

Die primêre doelwit van hierdie projek is om verkeersvloei vir beide huidige en toekomstige padgebruikers te verbeter, het Louis Pienaar, uitvoerende direkteur van ingenieursdienste by die Drakenstein-munisipaliteit, vandeesweek aan Paarl Post gesê.

Dit is ’n gesamentlike projek tussen die Drakenstein-munisipaliteit en die Wes-Kaapse departement van infrastruktuur.

Paarl Post verstaan dat die kontrak op 1 Junie 2022 in werking getree het. Die werk moes glo binne 18 maande en in Oktober 2023 voltooi wees.

“Sover ons kennis strek het verskeie uitdagings, soos swaar reën, diensverskuiwings, taxi-betogings en bykomende padwerke vertragings veroorsaak,” sê Pienaar.

André Fourie, Vryheidsfront Plus (VF Plus)-raadslid, het die kwessie op die laaste raadsvergadering verlede jaar geopper waartydens hy inwoners en motoriste se griewe met die raad gedeel het.

Fourie het vandeesweek aan Paarl Post gesê “dit is tans een enorme frustrasie om daardie pad te gebruik”.

“Daar is massiewe vragmotors wat uit die rigting van Villiersdorp ry. Dit is ’n grenslose frustrasie, veral in die spitstyd. Ons het mense wat by die werk moet uitkom en kinders wat betyds by die skole moet wees.”

Hy sê hoewel daar dankbaarheid heers vir die verbreding van die pad, is hy van mening dat daar onnodig gesloer word om die werk betyds klaar te kry.

“Die nuutste verwagte voltooiing is nou 16 Julie vanjaar, maar teen die slakkepas-werkverrigting blyk dit nie ’n baie realistiese verwagting nie. Ons is amper halfpad deur Januarie en die konstruksie is nog nie eens halfpad voltooi nie.

“Wanneer die een helfte egter eers voltooi is, sal dit die druk op padgebruikers darem verlig, maar dit moet nog gebeur. Daar was reeds ernstige motorongelukke – een veroorsaak deur ’n konstruksievoertuig,” sê Fourie.

Hy sê die moontlikheid moet oorweeg word dat die provinsiale regering dalk sloer met betalings weens ’n tekort aan finansiering wat dus daartoe lei dat die kontrakteur alle konstruksie by tye staak.

Die provinsiale regering het nie teen publikasietyd op Paarl Post se navrae gereageer om hierdie bewerings te bevestig nie.

Die begroting vir die projek is intussen van R158 miljoen na R185 miljoen aangepas, het Pienaar bevestig.

Paarl Post verneem dat die Drakenstein-munisipaliteit oorspronklik R80 miljoen tot die projek sou bydra.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article