Die World Economic Forum is van mening dat die wêreldekonomie in 2024 gaan verlangsaam, maar ook dat inflasiedruk wêreldwyd gaan afneem.
Die groep is ook van mening dat geopolitiese spanning soos die oorlog in Oekraïne en Gasa ekonomiese vooruitsigte in 2024 kan kniehalter. Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) voorsien ’n ekonomiese groeikoers (GDP) van nagenoeg 1,8% vir Suid-Afrika, wat goeie nuus is, gegewe die lae basis waarin ons tot nou was.
Ons ekonomiese vooruitsigte is darem nie net negatief nie en laat ons met ’n gaping om kreatief en innoverend te kan dink oor ekonomiese aksies wat besighede kan ontplooi om mededingend te bly. Die Reserwebank bestuur die inflasiekoers noukeurig en die koers is steeds binne die band wat gestel word om inflasie onder beheer te hou.
Op die plaaslike vlak in SA het ons hopelik die draaipunt met rentekoerse bereik wat die koste om sake te kan doen aansienlik kan verminder. Die energiekrisis en werkloosheid bly natuurlik ons grootste uitdagings en die verkiesing volgende jaar kan in vele opsigte bepalend wees vir beleggers in ons ekonomie.
Nader aan die huis, by ons in die Wes-Kaap, het bogenoemde faktore ’n uitkringende effek op ons plaaslike wel en wee en volgens die gerekende ekonoom Dawie Roodt word ons deur nuwe uitdagings vir 2024 in die gesig gestaar en dit is nodig dat ons ons sakerisiko’s moet identifiseer en bestuur in ooreenstemming met wesentlike begrotings en sakeplanne daaraan gekoppel om die impak van risiko’s op ons besighede te verminder en om nuwe geleenthede te ontsluit.
Ons sakekamerlede het reeds in die verlede bewys dat hulle veerkragtig is en het uitdagings ten spyte van krisisse suksesvol aangepak om steeds mededingend te kan wees en te oorleef.
Daar is ook vanjaar projekte wat van stapel gestuur word om multidimensionele oplossings vir talle uitdagings wat ons lede ervaar, te vind, asook die kommersialisering van dienste aan ons lede op te skerp.
Lede en spesialiste in besigheidstoepassings of -oplossings word genooi om by ons inisiatiewe aan te sluit en ’n verskil te help maak vir ander lede. Die Sakekamer wens sy lede ’n suksesvolle 2024 ekonomiese jaar toe en sien uit na ons vol program om verder te bou aan ons suksesvolle netwerk met en vir ons lede.





