Bo sit een van die vragmotors vas wat onlangs onwettig in Bainskloofpas gery het.Foto: Verskaf

Credit: SYSTEM

Inwoners van Bainskloof asook die besorgde bewaringsgemeenskap van Wellington is al vuisvoos oor die voortdurende misbruik van Bainskloofpas.

In die afgelope twee maande alleen was daar chaos in die pas met groot vragmotors, wat ten spyte van duidelike waarskuwingstekens, steeds die pas misbruik.

Wat volg is dat die vragmotors iewers in die pas ure lank vassit omdat hulle nie kan terugdraai nie, of hulle sit onder die lae rotshang, Dacres Pulpit, vas.

Paarl Post het die afgelope jare by talle geleenthede hieroor verslag gedoen. Besorgde inwoners het al elle lange pleidooie aan die onderskeie owerhede gerig, met geen positiewe terugvoer of selfs sonder enige terugvoer nie.

Volgens Andy Connell, een inwoner van Bainskloof wat die situasie noukeurig dophou, was daar in die afgelope twee jaar bykans 57 vragmotors wat in die moeilikheid beland het toe hulle onwettig die pas bestyg het.

En in baie van hierdie gevalle word die pas dan vir bykans 24 uur of meer vir verkeer gesluit terwyl bergingswerk gedoen moet word. Dit dan ook teen ’n geweldige koste.

Hierdie voorvalle vind byna weekliks plaas, ten spyte van duidelike waarskuwings oor die maksimum gewig en hoogte van voertuie wat oor die pas mag ry, aan sowel die Wellington-kant as die Wolseley-kant van die pas.

Connell het ook gesê aan die einde van 2023, ná verskeie sulke voorvalle, is die string e-posse en telefoonoproepe wat aan die Wes-Kaapse regering gerig is, nog steeds onbeantwoord.

Kommer word ook uitgespreek oor hierdie historiese pas wat verwoes kan word omdat dit nie gebou is vir swaar voertuie nie en die pad mettertyd kan meegee.

In die gevalle waar vragmotors hier uitgevang word, plaas hulle eenvoudig die skuld vir hul “foutjie” op Google Maps wat in sekere gevalle Bainskloofpas as die kortste roete na en van byvoorbeeld Ceres aandui.

Daar word dus ook ’n beroep op die provinsiale owerhede gedoen om op die hoogste vlak met die Google Maps-organisasie te skakel om die Bainskloofpas as problematies vir vragmotors aan te dui.

Vragmotorbestuurders se instink is om roetes via Google Maps te bepaal.

Tog, sê die Wellington-gemeenskap, is dit steeds nie ’n verskoning nie vanweë die duidelike waarskuwingstekens asook oorhoofse ketting-waarskuwings wat vragmotors se dakkappe tref wanneer hulle die pas betree.

Jandre Bakker, woordvoerder van die die Wes-Kaapse departement van infrastruktuur, sê die departement is bewus van die kwessie. “Ons het die belangrikste GPS-maatskappye /-toepassings gekontak om te versoek dat beperkingskennisgewings op hierdie roete geplaas word.

“Die meeste het egter aangedui hul huidige opstelling laat nie gedifferensieerde boodskappe tussen verskillende voertuigtipes toe nie.

“Standaardboodskappe / waarskuwings kan bygevoeg word en die meeste het aangedui dat dit in toekomstige ontwikkelings ingesluit sal word,” sê Bakker.

“Dit bly egter die padgebruiker se plig om op sulke boodskappe ag te slaan. Hoogte- en lengtebeperkingstekens is in plek aan albei kante van die pas. Ons het versoeke vir verskillende tekens ontvang. Afwyking hiervan sal nie wettig wees nie.

“Aan albei kante van die pas is ’n oorhoofse staaf ook aangebring, maar voertuie tref die gewigte met so ’n krag dat dit kan afbreek en vervang moet word.

“Die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit (CWDM) is in die proses om hierdie hoogtebeperkingsaan­wysergewigte te vervang.”

Maar besorgde inwoners en liefhebbers van Bainskloof is dit eens daar moet toegangsbeheer aan albei kante van die pas wees, wat swaar vragmotors van die staanspoor af sal verhinder om gebruik te maak van die pas en verwoesting van die pas sal verhoed.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article