Chris Kilowan van HK Law Consultants in die Paarl.Foto: Paarl Crime, Incidents in SA And Traffic INFO/ Facebook


Chris Kilowan, ’n advokaat in die Paarl, kon sy oë nie glo nie toe hy Saterdagaand (13 Januarie) na sy motor wat buite sy werksplek geparkeer was, gestap en opgemerk het sy toga, jabot en kravat is skoonveld.

Kilowan is verbonde aan HK Law Consultants in Swartvlei-straat in die middedorp.

Hy het oudergewoonte sy motor in die parkeergebied oopgelos maar met sy kleredrag binne-in, en niks daarvan gedink nie, “want wie sal dan nou ’n toga wil steel”?

Hy het verduidelik dat hy weens die toenemende misdaad in die sakekern besluit het om sy motor oop te los sodat inbrekers kan sien daar is niks van waarde nie, eerder as om dit toe te sluit en te betaal vir ’n gebreekte ruit.

Nietemin het die skelm Kilowan se toga, jabot en kravat, wat in ’n sak gelê het, gegryp en is daarmee weg.

Volgens Kilowan is dit moontlik dat die inbreker die sak gesien en dit gegryp het sonder om te kyk wat daarin is.

“Ek vermoed dit sal seker êrens langs die pad lê,” het Kilowan gesê.

Hy het hom tot sosiale media gewend en mense gevra om vir sy werksklere op die uitkyk te wees.

“Gelukkig” hoef hy eers die einde van die maand in die hof te wees, en het dus genoeg tyd om sy gesteelde artikels óf te vervang óf verder daarna te soek.

Die publiek, wat op sosiale media hiervan te hore gekom het of wat self met Kilowan gesels het, het “gemengde gevoelens”, volgens hom.

“Party was kwaad; ander het dit weer snaaks gevind en ’n grappie daaroor gemaak,” volgens Kilowan.

Kilowan het nie ’n klagte by die polisie aangemeld nie en net gesê hy is nie “kwaad” daaroor nie, maar vind dit eerder interessant dat só iets gebeur het.

Hy het ook met die tong in die kies gesê hy sal dalk nog eendag die inbreker onwetend in die hof moet verteenwoordig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article