Dr. Jana Eksteen (27) van Malmesbury het haar eie mediese praktyk in Noorder-Paarl begin.Foto: Rasaad Adams


Dit was tydens haar gemeenskaps­diens as student by verskeie staatshospitale in onder meer Malmesbury waar die jong dr. Jana Eksteen (27) besef het watter uitwerking goeie en vriendelike mediese sorg op veral minderbevoorregte gemeenskappe het, en dit is juis een van die redes hoekom sy nou haar eie praktyk in Noorder-Paarl begin het.

Eksteen het vandeesweek met Paarl Post gesels in die lig van die bykans 1 000 dokters wat sukkel om werk in die land se staatshospitale te kry.

Nadat sy in 2020 haar mediese graad aan die Universiteit Stellenbosch voltooi het, het sy haar gemeenskapsjaar in die Swartland-hospitaal in Malmesbury deurgebring, waar sy tot vandag steeds in haar vrye tyd gaan uithelp. Voor dit het sy haar internskap by die Cecilia Makiwane-hospitaal in Oos-Londen gedoen.

Dr. Jana Eksteen het in 2020 haar mediese graad vanaf die Stellenbosch Universiteit verwerf.Foto: Verskaf
Die belangrikste vir my is om altyd jouself in die pasiënt se skoene te plaas, soos byvoorbeeld hoe lank dit hulle moes vat om by die hospitaal uit te kom of hoe lank hulle vir ’n ambulans moes wag.

Sy sê staatshospitale is die hart van gesondheidsorg in Suid-Afrika.

“Dit is hartseer dat ek die Swartland-hospitaal moes verlaat. Ons staatshospitale het werklik dokters nodig wat ’n hart vir die mense het en vir niks terugstaan nie.

“Dit is in staatshospitale dat ’n mens werklik ’n verhouding met pasiënte bou en eerstehandse insig kry oor hoekom daar in die algemeen dalk negatiewe persepsies oor hierdie hospitale is.

“Die belangrikste vir my is om altyd jouself in die pasiënt se skoene te plaas, soos byvoorbeeld hoe lank dit hulle moes vat om by die hospitaal uit te kom of hoe lank hulle vir ’n ambulans moes wag.”

Sy voeg by dat staatshospitale dokters kort wat hul gemeenskappe verstaan.

“By Swartland het ek ’n baie goeie verhouding met die gemeenskap gehad. Ek voel soms dat van my kollegas in die praktyk nie altyd pasiënte verstaan nie.

“Baie dokters sal byvoorbeeld op swanger vroue skree, maar dan nie eens die moeite doen om hul omstandighede te verstaan nie. Ek dink dis wat die sektor vir my so spesiaal gemaak het.

“Baie van hierdie mammas woon op plase waar ek ook grootgeword het. Ek verstaan dus die moeite wat dit geverg het net om by die hospitaal uit te kom.”

Eksteen sê staatshospitale in die hart van die land gesondheidsorg.Foto: Rasaad Adams

Eksteen en haar verloofde Stephan van Rensburg.Foto: Verskaf
Ek het uitgevind dat Noorder-Paarl glad nie ’n algemene praktisyn het nie. My hele doel was om ’n praktyk te begin wat familievriendelik is. Enigeen is hier welkom.

Eksteen sê hoewel sy vasbeslote was dat sy ’n permanente pos by ’n staatshospitaal sou kry, het sy besluit om vanjaar haar eie praktyk in Noorder-Paarl te open.

“Ek het uitgevind dat Noorder-Paarl glad nie ’n algemene praktisyn het nie. My hele doel was om ’n praktyk te begin wat familievriendelik is. Enigeen is hier welkom.

“ ’n Kinderglimlag steel my hart vinnig; ’n siek kind breek my hart nog vinniger. Ek kan heeldag luister na ’n oupa of ouma oor hul omswerwinge as jongmens of hul hospitaalervarings.

“Swanger mammas is vir my kosbaar. ’n Man wat moet kom broos wees voor ’n dokter, hanteer ek met die grootste respek. ’n Tiener se guns probeer ek wen, in die hoop dat ek dalk nog ’n bietjie ‘cool’ is,” sê sy.

Eksteen het haar skoolloopbaan aan die Laer- en Hoërskool Swartland in Malmesbury voltooi.

Sy en haar verloofde, Stephan van Rensburg, sal eersdaags permanent na die Paarl verhuis.

Die twee het mekaar in hul studentejare in Stellenbosch ontmoet en trou in Maart.  Eksteen se praktyk is in Skoolstraat, Noorder-Paarl.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article