Saartjie se betoog in die jongste Paarl Post dwing my om kommentaar te lewer.

Dit ontstel my as wilde (ongegronde) stellings gemaak word oor dinge soos die vasstelling/verskuiwing van die sg. urban edge en dit wat daarmee saamhang.

Daar is melding gemaak van “oorbodige ontwikkeling”. Die vraag is egter: primêr hoe ontstaan ontwikkeling? Daar ontstaan eerstens ’n vraag na iets (bv. behuising).

Kom ons kyk na die spesifieke area waaroor die betoog gaan:

. Boschenmeer: Oorspronklik vasgevang tussen ’n pragtige gholfbaan en ’n onooglike stortingsterrein by een van ons dorpe se hoofingange. Kyk wat het ons vandag.

. Val De Vie en Pearl Valley: Seker van die swakste produserende landbougrond in die Boland. Kyk wat het ons vandag.

. Ontwikkeling aan weerskante van die N1-Oos van die R301, rigting Du Toitskloof. Aan die noordekant het ’n klipbrekery met berge klip die omgewing vir jare ontsier. Vandag het ons pragtige eenhede waar jongmense nou nesskop in hul honderdtalle in ’n omgewing met die ongelooflikste uitsigte op ons Bolandse berge: a view to die for. Aan die suidekant het ons ’n kwekery en ou afgeleefde vrugteboorde gehad wat al jare lank nie meer finansieel volhoubaar was nie. Kyk wat het ons vandag – ’n vulstasie en ’n pragtige kompakte inkopiesentrum wat ongelooflike waarde by die hele omgewing voeg. ’n Mens kan skaars daar parkering kry, wat vir my slegs daarop dui dat ontwikkeling gepas en nodig was.

Kyk ons na die inkomste wat vroeër gegenereer is uit hierdie lappe aarde, wat totaal onderbenut was, teenoor die miljoene rande se maandelikse inkomste wat tans deur Drakenstein uit hierdie ontwikkelings geïn word, kan ons as belastingbetalers nie anders as om dankie te sê aan diegene wat bereid was om groot bedrae in Drakenstein te belê nie, asook versiende politici en baie bekwame amptenare wat die waarde van ontwikkeling besef en dit laat gebeur.

Dit is dorps- en stadsbeplanners (veral by munisipaliteite) se werk om ontwikkelingsgeleenthede te identifiseer, te ondersoek en dit te laat gebeur – hoofsaaklik om nuwe behoeftes die hoof te bied en daardeur die belastingbasis deur sinvolle/slim uitbreiding voortdurend te verbreed.

Aangesien ekself ook by die “vuil” politiek betrokke was toe ’n klompie groot besluite geneem is rakende sekere van hierdie ontwikkelings, moedig ek diegene aan om stawende getuienis op die tafel te sit sodat dit in die openbaar bespreek kan word.


Johan Rademeyer,

Paarl

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article