Hier kan dit gesien word hoe vele mense, ten spyte van die verdrinking en nie nooddienste se teenwoordigheid steeds gebruik maak van die Bergrivier.Foto: Skermgreep/ Edgar J Petersen/ Facebook

Credit: SYSTEM

Nog ’n persoon het Saterdagmiddag (20 Januarie) in die Bergrivier in die Paarl verdrink, dit ten spyte van talle waarskuwingstekens dat swem in dié rivier verbode is.

Trevor Maarman (22) van Groenheuwel en ’n kranige rugbyspeler van die Newton Villagers-rugbyklub, het glo omstreeks 16:00 in die Bergrivier naby die voetoorgang-brug van die Arboretum verdrink, nadat hy soos talle ander verligting gesoek het van die Paarlse hitte.

Dít is volgens kapt. Louise du Plessis, woordvoerder van die Paarlse-polisie.

“Volgens inligting het oorledene in [die] vlak kant van die wal ingeduik,” het Du Plessis gesê.

Een van sy vriende wat saam met hom in die rivier geswem het, het iets teen sy been gevoel en toe hy afkyk het hy sy vriend onder die water gevind, volgens ‘n Facebook-video van Edgar Peterson, ‘n gemeenskapsaktivis.

Die Paarl-polisie is hieroor ingelig en was om 16:25 op die toneel, saam met die ambulansdienste.

Hulle het noodhulp op Maarman toegepas, maar hy is op die toneel dood verklaar.

Petersen, het in die Facebook-video gesê dat dit skokkend was om te sien dat ten spyte van die tragiese voorval het talle mense steeds enkele meters vanaf die toneel net voortgegaan om in die water te baljaar.

Newton Villagers het hul medelye op die klub se Facebook-blad uitgespreek: “Ons klub is in rou gedompel. Met leed wyse het ons verneem dat een van ons spelers vanmiddag sy lewe verloor het.

“Trevor Maarman was ons speler van die jaar sowel as die spelers se speler van die jaar. Hy was ’n kranige speler en het nooit terug gestaan vir ’n uitdaging nie. Die klub het ’n juweel verloor, maar God het jou nodiger gehad. Rus sag.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article