Met die nuwe jaar is dit die perfekte tyd om asem te skep en die volmaan op ’n heerlike somersaand op die pragtige Paarlberg van nader te aanskou. Kom sien Vrydag 26 Januarie die maan opkom.
’n Gratis begeleide toer om dit alles te verduidelik vind om 18:30 plaas. Besoekers word ook aangemoedig om die omgewing en tydelike uitstallings te verken; daar is buitelug-speletjies en speelparke vir die kinders. Genoeg veilige parkeerplek is gratis beskikbaar.
Ter ondersteuning van die Sentrum vir Astronomiese Erfenis se projek om inheemse name vir volmane in Suider-Afrika te bevorder, word vandeesmaand se maan genoem na die bidsprinkaan, ’n godsdienstige wese van die San-mense wat oor Suid-Afrika heen gevind word. In die San-tradisie is die bidsprinkaan ’n soort bedrieër, /Kaggen, die een wat mislei. Met verloop van tyd het hy ook die Nguni-wese geword wat as uThikoloshi bekend staan.
Toegang is R40 per volwassene, R10 vir SA studente, pensioenarisse en kinders, en gratis vir kinders onder ses jaar asook jaarpermithouers. Kaartjies is beskikbaar by Computicket of die hek, en geen besprekings is nodig nie.
By al die Taalmonument (ATM)-geleenthede is besoekers welkom om hul eie pieknieks en drankies (geen glas) te bring of vooraf ’n piekniekmandjie by die Suikerkan by 082 216 2510/082 856 1871 of info@diesuikerkan.co.za te bestel – die bistro sal ook verversings tydens die geleentheid verkoop.
Die piekniekreeks word aangebied ten bate van Laat ons Lees!, die ATM se kindergeletterdheidsprojek. Piekniekgangers word gevra om tweedehandse of nuwe kinderboeke te skenk.




