Dis ’n jaar sedert die grusame vonds van ’n vermoorde bejaarde vrou van die Paarl gemaak is, maar die moordenaar is steeds op vrye voet.
Die liggaam van Karmen Malan (65) is op 21 Januarie 2023 deur familielede aangetref te midde van ’n soektog nadat haar tuinwerker haar vroeër die dag nie in die hande kon kry nie.
Malan se lyk is in haar slaapkamer in haar huis in Joubertstraat, Paarl, aangetref.
Malan se beursie is leeg naby haar lyk aangetref, terwyl haar handsak oop gelê het en alles in die huis omgedolwe was. Juweliersware is ook vermis.
Beeldmateriaal van veiligheidskameras in Kloof- en Joubertstraat toon hoe ’n verdagte in die nabye gebied ten tye van Malan se dood ronddwaal.
Die man word gesien waar hy haastig in die straat stap met iets in sy hande wat soos ’n plastieksakkie lyk.
Sedertdien het die spoor doodgeloop en Malan se saak word as ’n cold case beskryf.
Dei Paarl-polisie sê egter die saak word nog ondersoek.
Die Wes-Kaapse polisie se kommunikasie-afdeling het nie op navrae oor die moordsaak gereageer nie.





