Die Drakenstein-plaaswag sê verlede week se brand op Paarlberg kon verhoed word nadat hy Donderdag (18 Januarie) in die vroeë oggendure sy hulp aan die munisipale branddienste gebied het, maar dit toe glo van die hand gewys is.
Etlike ure later moes drie helikopters ingespan word om die vuur, wat “buite beheer” gebrand het, te blus.
Die Drakenstein-munisipaliteit het egter by navraag aan Paarl Post gesê dié brand, wat omstreeks 03:45 deur ’n inwoner aangemeld is, het in daardie stadium nie enige gevare vir nabye eiendomme ingehou nie.
“Die verkryging van addisionele hulpbronne en bystand word altyd bepaal deur die aard en status van ’n brand. Dit is ’n besluit wat deur die brandweer- bevelvoerder op die toneel geneem word,” het Dereck Peceur, adjunk-brandweerhoof by die munisipaliteit, by navraag gesê.
Volgens Peceur is branddienste by die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit ontbied aangesien die gebied in en om die Paarlberg volgens munisipale wetgewing onder dié distriksmunisipaliteit se jurisdiksie val.
“Dit was juis die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit wat ná ’n deeglike assessering van die brand besluit het die bystand van helikopters sal wel nodig wees.”
Hy sê Drakenstein se branddienste het bloot bystand gebied en plaaslike eiendomme probeer beskerm.
Daan van Leeuwen Boomkamp, die Drakenstein-plaaswag se bevelvoerder, sê hy was die oggend van die brand in kontak met ’n senior amptenaar by die munisipaliteit, wat hom verseker het dat die brand onder beheer is.
Hy sê sou die munisipaliteit die plaaswag se hulp in daardie stadium aanvaar het, kon die inspan van buitensporig duur hulpbronne en moontlike skade aan eiendom verhoed gewees het.
Die verhouding tussen die Drakenstein-munisipaliteit en Drakenstein-plaaswag is ná vandeesweek se Paarlberg-brand weer in die kollig geplaas toe die plaaswag beweer het opdrag is glo aan die munisipaliteit se branddienste gegee om nie enigsins verder met die plaaswag brande te bestry nie – dit ten spyte van ’n memorandum van verstandhouding wat verlede jaar tussen Van Leeuwen Boomkamp en die munisipaliteit onderteken is.
In die memorandum kom die munisipaliteit en plaaswag ooreen dat ’n samewerkende verhouding tussen die twee partye sal heers met betrekking tot brandbestryding in die Drakenstein-vallei.
Die sluit onder meer gereelde kommunikasie en die deel van hulpbronne in.
Volgens Van Leeuwen Boomkamp het hul verhouding in Desember tydens die piek van die brandseisoen goed verloop toe die plaaswag en die munisipale brandweer saam op brande in die vallei gereageer het.
Hy sê die verhouding is egter weer onlangs versuur nadat senior amptenare binne die munisipaliteit glo die ooreenkoms nietig verklaar het.
Ian Cameron, ’n gemeenskapsveiligheid-aktivis verbonde aan die organisasie Action Society, het Maandag (22 Januarie) gesê hy is persoonlik moeg vir die kat-en-muis-geveg wat deur die munisipaliteit se bevelvoerders gespeel word.
“Die brandweer het fantastiese brandbestryders op die grond. Hul werk word erger bemoeilik deur senior lede se politieke spel. Dit maak ’n mens naar – om die minste te sê.”
Cameron het ook na verlede week se brand op Paarlberg verwys en gesê “politieke figure het gespog met die drie helikopters wat ingespan moes word, maar die realiteit is dat dit ’n gat in die belastingbetaler se sak laat”.
“Hierdie staatshulpbronne was amper 45 minute laat. Jy as belastingbetaler het meer as R500 000 – sommige sê dit is selfs nader aan ’n miljoen – aan daardie helikopters bestee.
“Dit is duisende rande op ’n brand wat deur brandbestryders op die grond geblus kon word indien net vinniger gereageer is.
“Die brand is glo om halfvier Donderdagoggend reeds deur die plaaswag by die munisipaliteit aangemeld.
“Ek glo stellig dat die plaaswag se intensies goed is. Hulle wil saam met die munisipaliteit werk; hoekom kan die probleme onder die leierskap nie opgelos word nie?”
Paarl Post verstaan dat Cameron Dinsdag (23 Januarie) op versoek van die munisipaliteit met dr. Johan Leibrandt, die stadsbestuurder, Eda Barnard, die uitvoerende direkteur van openbare veiligheid en Gert Combrink, die adjunkburgemeester, vergader het.
“Die vlugtige gesprek was hoofsaaklik inleidend maar sal nou tot toekomstige werksessies lei sodat ons die bestaande verhoudings, kommunikasie en die belangrikste van alles, dienste wat lewens moet red, kan bewerkstellig en verbeter,” sê hy.
Intussen sê die munisipaliteit Paarlberg is een van die gebiede waar instandhouding om brande te voorkom, gereeld plaasvind.
“Hierdie voorkomende maatreëls sluit in die verwydering van moontlike misdadigers wat in die berg ronddwaal.
“Brandbane asook -krane word gereeld in stand gehou. Die munisipaliteit is ook betrokke by gereelde ontbossingsaktiwiteite om die verspreiding van indringerplantspesies te beheer.”





