Die opskrif “Paarl-ontwikkelings nie ongegrond” verwys. Saartjie se betoog teen bogenoemde is definitief nie ongegrond soos in Johan Rademeyer se antwoord in Paarl Post van 18 Januarie nie.
Johan Rademeyer en die Drakenstein-munisipaliteit kyk met Mammon se oë en daar kon duidelik in sy verduideliking waargeneem word hy en hulle is in hart en siel nie Paarliet(e) nie.
Verder gee hulle nie om vir hul ondeurdagte besluite met gevolge vir die nageslag en dorp met sy eens mooi karakter en pragtige natuurskoon nie.
Hy hemel voordele op, maar vergeet die volgende: Paarl was nog altyd voor die “onnodige ontwikkelings” ’n rustige dorp met baie karakter wat reeds verloor is.
Esteties is die dorp oneindige skade berokken – ook aan sy natuurskoon. Paarl is ook die middelpunt van die wynbedryf en wingerdplase en vrugteplase verdwyn soos mis voor die son vir ontwikkeling.
Eiendomsontwikkelaars met hul Mammon-ingesteldheid vermoor ons dorp met verkeersdruk, oorvol skole en druk op waterbronne en elektrisiteitsverskaffing.
Ontwikkelings lok ook slegte dinge soos misdaad en gepaardgaande onveilige omstandighede vir ons as inwoners. Dit bring ook nog besoedeling mee.
Ontwikkeling is onvermydelik, maar nie teen die pas wat Mammon dit dryf nie. Rademeyer en die Drakenstein-munisipaliteit – word wakker, asseblief.




