Of dit die einde van ’n jaar, of die begin van ’n nuwe jaar in Suid-Afrika is, is dit om ’t ewe vir denkende Suid-Afrikaners, want die onverkwiklike politieke toestand bly onveranderd.
Hulle wat hemelhoë verwagtings gehad van die Engel in mensgewaad, toe hy Mnr. Nkandla ontsetel het, het nog nie agtergekom hy is The Devil in Disguise nie. Onkunde oor die Grootboek maak so. Dit is geskrywe, moenie jou hoop op ’n mens bou nie. So? Dit wat ná 1996 begin wankel het, het begin kraak onder Zuma en op Ramaphosa gewag om onherstelbaar te verbrokkel.
Die Engel doen een iets beter as sy voorgangers. Op meesterlik wyse los hy alle probleme op deur surrealistiese beloftes te maak. Het darem ’n Eureka-oomblik gehad met die aanstelling van die Zondo-kommissie en sy deursettingsvermoë om ontslae te raak van die Duiwel se eie suster – die nuwe bloedsuier-parlementariër, Busisiwe Mkhwebane, verdien lof.
Dit het toe die somtotaal van sy breinvermoë gedreineer, want toe word hy ’n Towenaar wat ’n onsigbare $580 000 ontvang van ’n onsigbare koper vir 20 onsigbare buffels. Onsigbare saketransaksies bleik sy nering te wees, want hy het miljoene van die reeds oorlaaide fiskus ook in die niet laat verdwyn. Alles wat ontvang is van “blinkskoon” redders vir Suid-Afrikaners wat steeds ly onder die nalatenskap van die wreedste regering wat op die aangesig van die aarde verskyn het. Doodseker is dit deur agtergeblewe vooruitstrewendes opgeraap. Maar wat, dié soort goed maak nie saak nie, want die dood van ses miljoen Jode onder Hitler is mos eintlik niks en duidelik ook verdien die Israelies die terroriste-aanval van 7 Oktober 2023.
Vir genoemde redes lyk elke nuwe jaar soos al die voriges. Dit wat reeds min was, is nog minder. Dit wat duur was; nog duurder. Armes het nog armer geword – behalwe die 74 000 dooies wat steeds toelaes ontvang.
Dit wat reeds verskroei was, is tot as gereduseer. Dit wat ongrondwetlik was, het kleintjies bygekry.
Die reeds onbeskermde Fluitjieblasers is vir die wolwe gegooi.
Wetteloosheid wat oral geheers het, is net beter gewettig deur integriteitlose wetstoepassers.
Die oorvol tronke en skelm personeel ontvang nog meer professionele skurke.
Die honderde misdadigers wat voortydig uitgelaat word, om plek te maak vir nuwe-ou-skurke, word duisende.
Belaglike dom uitlatings deur ANC-politikusse word erger, soos die vakansiegangers wat vanjaar aangesê is om teen 60 km/h per uur te ry om veilig tuis te kom.
Sonder twyfel was dit ook die afgelope vakansie die onderwerp van baie gesprekke tussen beswaarde Suid-Afrikaners.
Was ook so die dag toe Okkie ons gesprek ge-gate-crash het – Okkie, wat op onkonvensionele manier deel geword het van my Oudtshoorn-kind se lewe; Vriendelik en ordentlik Okkie; netjies; fyn opgevoed en maak nooit ’n oorlas van homself nie. In jare en in liggaamsbou groot en sterk soos my kind, maar in verstandsouderdom? ’n Jong kind met besondere eienskappe, maar iemand wat maklik gekwets word wanneer geminag of afbrekende goed toegevoeg word nie. Ek en Dries het hom maar daar kom kry en vir hom was ons Fasie se pa en Fasie se ma. Ná Dries se dood is ek steeds Fasie se ma.
Die detail van sy lewe ken ek nie, behalwe dat hy die jongste van vier kinders is en die enigste seun; ook dat hy saam met sy bejaarde ouers woon. Hulle is afgetrede boere en woon in die aftreeoord oorkant my seun se huis. Mettertyd het ’n laatmiddag-koffiekuier ’n ritueel geword by die Wellingtonse De Kock op Oudtshoorn. Somer of winter; altyd onder die groot boom in die mooi agtertuin. Oor ’n beker koffie gesels hulle hul geselse, en wanneer hy groet, stap Fasie saam om seker te maak hy kom veilig oor – veral daai tyd van die dag se besige Noordstraat.
Die dag, midde in ons gesprek oor landsake, meld Okkie aan soos gewoonlik, via die voordeurklokkie vir ’n koffie-gesels. Ons hou die gesprek aan die gang, vra uit oor sy vakansie. Komplimenteer hom met sy baard. Ja. Hy het by die see vir hom ook ’n baard laat groei, soos almal.
Fasie vra of die nuwe bestuurslid nog by die oord is. Hy wil nie oor haar praat nie. Sy het hom oor “sy toestand” verbied om verder as jarelange vrywilliger te help met instandhouding van die tuine. Hy wil nou groet, maar wil eers vir ons bid vir die nuwe jaar, want AJ en Stephan was tjokkertjies toe hy hulle die eerste keer gesien het en nou is hulle grootmense.
Ek loer. Eerbiedig, koppe gebuig sit hulle en Okkie praat met die Here soos ’n seuntjie wat op sy pa se skoot sit. Hy vertel van sy maatjies en noem hulle name. Hy sê wat elkeen benodig en hulle het niemand om dit vir hulle te doen of te gee nie, sal Hy nie asseblief hulle pa ook wees en vir hulle sorg nie? Dít, die Bybelse kinderlike geloof. Ek weet daai gebed is verhoor en maak nie saak wat nie, ek is bewapen daarvoor.




