’n Voorbeeldige lewe en die begeerte om altyd naby die Here te wees, is die rede dat sy vir ’n eeu uitgespaar is en steeds die lewe kan geniet.
Só glo ouma Dora van Wyk, van Gouda, nadat sy verlede Donderdag (25 Januarie) haar 100ste verjaarsdag saam met vriende gevier het.
“Hierdie ouma het bitter swaar grootgeword en ek kon nie soos ander kinders speel nie omdat ek van jongs af moes werk,” vertel sy.
“Ek is oorspronklik vanaf Beaufort-Wes en het in baie dorpe gaan werk soek en later in Tulbagh gaan werk. Ná ons troue het ek en my man, wat al jare gelede oorlede is, in Gouda gaan bly.
“Toe ek jonk was, het ek nooit rondgeloop nie, maar vir my ouers gesorg. Ek bly altyd naby die Here en dis daarom dat Hy my tot nou toe uitgespaar het.”
Ouma Dora sê sy lewe vir haar kerk en die Here. Sy het vier dogters en vyf seuns gehad, waarvan net een seun en twee kleinkinders nog leef.
Dinah Smith, bestuurder van die Gouda dienssentrum vir bejaardes en gestremdes, het ’n partytjie vir ouma Dora gereël.
“As lid van die dienssentrum-klub is ouma Dora ’n inspirasie vir ons jonger lede, veral met haar Christelike waardes en mooi karakter. Sy het al op 25 Desember verjaar, maar omdat dit Kersfees was en almal tyd met hul geliefdes wou deurbring, het ons besluit om haar partytjie vir ’n maand uit te stel.”
“Ons wil graag vir almal wat daartoe bygedra het om vir ouma Dora so ’n aangename dag moontlik te maak, baie dankie sê,” sê Smith.
Dr. Elna von Schlicht, uitvoerende burgemeester van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit, het ’n spesiale koek vir ouma Dora laat bak – met die munisipaliteit se embleem daarop.
Hannes Smit, raadslid vir wyk 30 by die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit, het die oorhandiging van die koek behartig en gelukwense aan ouma Dora namens die burgemeester oorgedra. Von Schlicht kon nie die geleentheid weens ander verpligtinge bywoon nie.
Ouma Dora het baie bewoë geraak toe die raadslid haar gelukwens en dit was duidelik dat al die bewondering en aandag wat sy gekry het, haar oorweldig het.
Hoewel sy met ’n kierie en soms ’n rolstoel oor die weg moet kom en haar sig baie swak is, is dié lieflike ou tannie se verstand nog helder en geniet sy goeie gesondheid.
Smith sê dit gaan maar moeilik om die dienssentrum te bedryf omdat daar baie uitgawes is en dat enige bydraes baie sal help om bejaardes soos ouma Dora se laaste jare vir hulle so aangenaam moontlik te maak. Baie aktiwiteite word aangebied en die lede doen ook opheffingswerk in die gemeenskap.
- Bel Dinah Smith by 084 298 0369 om Gouda se dienssentrum vir bejaardes en gestremdes te ondersteun.
An exemplary life and the desire to always be close to the Lord is the reason that she was spared for a century and can still enjoy life. This is what ouma Dora van Wyk, who lives in Gouda, believes.




