’n Waarskuwing oor die onwettige verspreiding van elektroniese koerante en tydskrifte is Maandag uitgereik in die saak teen twee vroue van Oudtshoorn, wat verskeie publikasies van Media24 onwettig versprei het.

Die hooggeregshof in Kaapstad het bevind die vroue het Media24 se outeursreg geskend toe hulle die elektroniese koerante en tydskrifte oor ’n tydperk op ’n WhatsApp-groep versprei het.

Regter Monde Samela het Media24 se aansoek, wat in Desember verlede jaar ingedien is, aangehoor.

Die aansoek is teen Christa Gorgens (57) en Leanda van den Berg (56) ingedien om hulle te verhoed om enige werk van Media24 onwettig te versprei en om finansiële verliese van hulle te verhaal. Hulle het nie die aansoek teengestaan nie en was nie in die hof nie.

Gorgens en Van den Berg was die administrateurs van die “Koerante en Tydskrifte-Groep” op WhatsApp, waaraan sowat 900 mense behoort.

In die aansoek het Ishmet Davidson, uitvoerende hoof van Media24, ’n bevel teen die vroue gevra omdat hulle Media24 se outeursreg geskend het toe hulle sonder toestemming PDF-weergawes van die groep se koerante, tydskrifte, e-publikasies en gemeenskapskoerante op die Whats­App-groep versprei het.

’n Interdik is ook toegestaan wat die vroue verbied om die outeursreg van enige van dié publikasies of nuwe titels te skend. Die interdik geld ook enige literêre of kunswerke in die publikasies.

Hoewel die saak nie oor die deel van boeke gehandel het nie, is dit onwettig.

Die hof het gelas dat die vroue geen publikasie van die Media24-groep sonder toestemming mag versprei nie. Hulle is ook met die koste van die saak gelas.

Hulle moet ook hul selfone aan Jeremy Speres, Media24 se regsverteenwoordiger, oorhandig. Dit sal gebruik word om te bepaal wat die tantième vir die werk is wat hulle gedeel het, die skade wat Media24 gely het en die rente daarop, waarna dit aan Media24 betaal moet word.

Davidson het Maandag die bevel verwelkom. Hy sê die saak skep ’n presedent met ’n regter wat die eerste keer beslis het dat die ongemagtigde verspreiding van materiaal met kopiereg wel onwettig is.

“Die onwettige reproduksie en verspreiding van koerante en tydskrifte kos die mediabedryf elke jaar miljoene rande net aan verlore inkomste. Dit hou ’n ernstige bedreiging vir die lewensvatbaarheid van gehaltejoernalistiek in, wat baie duur is om te skep, en vir die noodsaaklike rol wat die media in ons demokrasie speel,” sê hy.

“Kopiereg is heilig vir die volhoubaarheid van ’n onafhanklike media en Media24 bly daartoe verbind om dit tot elke prys te beskerm.”. Hierdie artikel het aanvanklik in Die Burger verskyn. Die Burger, asook Paarl Post, is ’n publikasie van Media24, ’n filiaal van Naspers.. Om PDF-publikasies van boeke, tydskrifte of koerante te deel, is ’n misdaad. Meld voorvalle hiervan aan by report@media24.com

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article