Shane Basjan (35), ’n inwoner van Newton in Wellington is op 20 Januarie deur drie vermeende dwelmgebruikers gekaap en aangerand. Basjan is met ’n mes in die nek gesteek.Foto: Rasaad Adams


Shane Basjan (35), ’n inwoner van Newton in Wellington, moes verlede week na die Tygerberg-hospitaal gehaas word nadat hy in die nek gesteek is toe hy sy meisie en twee kinders tydens ’n kaping deur drie vermeende “tikkoppe” wou beskerm.

Basjan se regterbeen is ook beseer toe een van die verdagtes met die gesteelde voertuig bo-oor hom gery het.

Hy het verlede week aan Paarl Post gesê hy sukkel om die motief agter die aanval te verstaan.

“Ek en my gesin is na die winkelsentrum hier naby. Op pad terug huis toe het een van hulle voor my kar ingeloop. Ten spyte daarvan dat ek toe dadelik voor hom stilgehou het, het hy kliphard met sy vuis op my kar geslaan.

“Dit is toe ek besef het hierdie tikkoppe soek al weer moeilikheid,” vertel Basjan.

Basjan sê die verdagte het daarna ’n waatlemoenskil teen die voorruit van sy voertuig gegooi.

Dit is toe dat hy uit sy voertuig geklim en die verdagte konfronteer het.

Nadat hy my gesteek het, het ek besef hierdie is ’n geveg wat ek nie nou gaan wen nie. Ek wou op daai punt my familie na veiligheid neem en aan die steekwond aandag skenk.

’n Onderonsie het tussen Basjan en die verdagte uitgebreek, waarin hy met ’n mes in die nek gesteek is.

“Nadat hy my gesteek het, het ek besef hierdie is ’n geveg wat ek nie nou gaan wen nie. Ek wou op daai punt my familie na veiligheid neem en aan die steekwond aandag skenk.

“Hy [die verdagte] het met my kar weggery en met die wegtrek oor my been gery. My meisie en kinders kon darem betyds uit die kar kom voordat hy weggejaag het.”

Volgens Basjan het die verdagte ook kans gesien vir sy dertienjarige seun.

“Soos enige seun wou hy my natuurlik probeer help. Hierdie ou wou letterlik my seun ook aanval.”

Hy sê met die hulp van familielede is hy eers in die Paarl-hospitaal opgeneem, waarna hy weens die erns van sy beserings na die Tygerberg-hospitaal gehaas is.

Hy het later daarin geslaag om sy voertuig in die omgewing op te spoor.

Basjan sê hy sukkel om te verstaan hoekom hy en sy gesin geteiken is.Foto: Rasaad Adams

Volgens Basjan het die hele affêre sy tol op die familie geëis.

“Ons almal is nog geskok. Wat my die seerste maak, is dat hierdie in die teenwoordigheid van my gesin gebeur het.

“ ’n Mens probeer so hard om jou kinders op die regte pad te hou. Dit tref gewis my seun die hardste, want hy voel seker daar is ’n verantwoordelikheid op hom om die familie te beskerm.”

Hy sê hulle het juis twee jaar gelede uit ’n ander misdaadgeteisterde gebied in Wellington na ’n woonbuurt in Newton getrek.

“Ek wou hê my familie moes in ’n veilige omgewing woon.

“Ek persoonlik is ’n baie rustige mens. Ek pla niemand nie, dus sukkel ek regtig om te verstaan hoekom hierdie met ons moes gebeur.”

Basjan kon daarin slaag om sy voertuig wat deur die “tikkoppe” gekaap is terug te kry.Foto: Rasaad Adams

Basjan sê hy het aanvanklik gesukkel om die voorval by die polisie in die omgewing aan te meld.

“Ons is van die een polisiekantoor na die volgende rondgestuur. Mbekweni se polisie het ons na Wellington verwys, en Wellington het weer aangedui dat die gebied onder Mbekweni val.”

Paarl Post het by navraag bevestig die voorval word wel deur die Mbekweni-polisiekantoor ondersoek.

Volgens AO Nceba Vanqa, ’n polisiewoordvoerder in Mbekweni, ondersoek die polisie ’n klagte van poging tot moord.

Vanqa sê altesaam drie verdagtes wat by die voorval betrek word, is nog op vrye voet. Hy sê die motief vir die aanval is in hierdie stadium nog onbekend.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article