Geniet die klanke van Luna Paige by The Daisey Jones Bar.Foto:


In die aanloop tot die bekendstelling van Luna Paige se nuwe Afrikaanse album, wat in April vanjaar uitgereik word, bring Luna en mede-musikante die gewilde produksie van haar Afrikaanse debuut-album, Storielied (2012), weer tot lewe op die verhoog.

Die konsert vind plaas op 25 Februarie by The Daisy Jones Bar by die Summerhill-landgoed in Stellenbosch om 17:00.

Storielied is ’n versameling vn liedere wat geïnspireer is deur die literatuur van bekende Afrikaanse kortverhaal- en romanskrywers. Die opname van die musiek in lewende lywe vir die album en DVD is in 2012 deur ClemenGold moontlik gemaak.

Na afloop van die bekendstelling van Luna se eerste Afrikaanse liedjies het baie deure vir Luna oopgemaak – nie net by Afrikaanse kunstefeeste en taalgeoriënteerde geleenthede nie, maar ook in Nederland, waar Luna sedert 2013 gereeld optree.

In 2024 – twaalf jaar ná die bekendstelling van dié musiek – kom die Storielied-span weer op die verhoog bymekaar. ’n Noodgedwonge verandering is hier en daar aan die orkessamestelling gemaak. Die orkeslede is wel almal meesters op hul gebied. Die musiek sal soos op die oorspronklike album uitgevoer word.

Gehoorlede kan ook uitsien na die opvoer van nuwe oorspronklike Afrikaanse liedere – spesifiek dié wat deur letterkunde geïnspireer is.

Luna se nuwe musiek word in April in CD-, plaat- en USB-formaat sowel as op alle digitale platforms bekendgestel.

Storielied Reünie sluit ook uittreksels uit gunsteling- samewerkende musiekteater­produksies in waarby Luna betrokke was. Medekunstenaars Nicole Holm en Frieda van den Heever voer saam met Luna uitgesoekte liedere uit die kabaret Elders aan diens uit, terwyl Jamie Jupiter bydraes uit die gewilde Korreltjie Kantel tot die repertorium voeg. Albei dié produksies is nes die oorspronklike Storielied op literêre werke geskoei. Elders aan diens is ’n viering van Jeanne Goosen se digkuns, en Korreltjie Kantel op sy beurt ’n viering van Ingrid Jonker se werke.

Skrywers wat Luna se liedjies (oud en nuut) inspireer, sluit in Ingrid Winterbach, André P. Brink, Dimitri Verhulst, Antjie Krog, Elias P. Nel, Dana Snyman, Jeanne Goosen en meer. Een van Luna se liedere is selfs deur die geliefde ClemenGold-mandaryn geïnspireer.

Die orkes bestaan uit Jonno Sweetman op tromme, Schalk Joubert op baskitaar, Willem Möller op kitaar, en Nicole Holm, Lara Kinnear en Nathan Lewis as agtergrondstemme.

Die strykers is Anjulie Nock op tjello, Jan-Hendrik Harley op altviool en Annien Shaw op viool.

Lilavan Gangen sluit opnuut by die groep aan en lewer betowerende perkussie en tabla-klanke. Muneeb Hermans bring ekstra kleur met sy trompet, terwyl die trekklavierspeler Leon Albert Oosthuizen verdere luisterplesier bied. Luna begelei haarself op elektroniese klavier en akoestiese kitaar.

Frieda van den Heever is nie net ’n gaskunstenaar nie, maar ook regisseur van die konsert.. Die deure open reeds om 15:00 met heerlike disse op die spyskaart.

Kaartjies kos R175 by Quicket en R200 by die deur.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article