Cape Nature loods ondersoek na nóg ’n brand in Bainskloof

Bainskloof is glo Sondag opsetlik aan die brand gesteek deur mense wat by die nie-amptelike piekniek-plek Gawie se Water gekuier het.Foto: Verskaf

Credit: SYSTEM

CapeNature het die bal by die polisie aan die rol gesit om ’n strafsaak weens brand­stigting aanhangig te maak nadat ’n brand laat Sondagmiddag (4 Februarie) in Bainskloof uitgebreek het.

Die vermoede is die jongste brand het by die nie-amptelike piekniek-plek, Gawie se Water, in Bainskloof ontstaan.

Petro van Rhyn, ’n woordvoerder van CapeNature, het bevestig iemand is aangestel om ’n ondersoek te doen.

“Daar was ook ’n ooggetuie wat ’n nommerplaat afgeneem het. Ons het ’n klagte aangemeld.”

Bainskloof is Sondag tydelik gesluit vir verkeer en weer teen Maandagoggend vir motoriste oopgestel.

Volgens Deon Rossouw, vaardigheidsbestuurder van geïntegreerde opvanggebiede by CapeNature, is hulle omstreeks 16:25 oor die brand in Bainskloof ingelig.

Die brand het teen Dinsdagoggend (6 Februarie) om 08:00 steeds gewoed. Die omvang van die brand het toe reeds oor 750 hektaar gestrek.

“ ’n Ondersoek is reeds van stapel gestuur en die ondersoekers sal van Woensdag (7 Februarie) af getuieverklarings afneem,” sê Rossouw.

Op die vraag oor onder wie se jurisdiksie die spesifieke deel van die pas val (waar Gawie se Water is), het Rossouw gesê die grond is in private besit.

“Daar is ’n padreserwe wat ’n mandaat van die provinsiale paaiedepartement (openbare werke) het. Ek weet nie wat die afstand van die middel van die pad is nie, maar ek het gehoor 12 meter.

“Ons het mense in die verlede van Gawie se Water verwyder, maar omdat dit private grond is, weet mense dat ons nie jurisdiksie het nie.

“Die enigste tyd wanneer ons kan optree, is as mense ’n vuur maak of as hulle op ons grond is.”

Brandbestryders het die afgelope paar weke hul hande vol met verskeie brande wat oor die Kaapse Wynland heen aangemeld is.

Rossouw is van mening dat die uitdagings wat CapeNature se brandbestryders en hul vennote ervaar wanneer brande in sulke hoërisikogebiede bestry word, ontwatering, moegheid, risiko van besering en dood insluit.

“Elke keer as iemand onwettig ’n vuur aansteek en dit raak buite beheer, kos dit ’n aansienlike bedrag geld om die brand in bedwang te bring,” voeg hy by.

Jo-Anne Otto, ’n woordvoerder van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM), het ook uitgebrei oor die uitdagings wat brandbestryders in die gesig staar.

KWDM-brandbestryders het by die Bainskloof-brand hand bygesit.

“Die baie hoë temperature het twee implikasies gehad. Dit het die grond en plantegroei baie droog en warm gemaak, wat gunstig is vir brande, en het fisieke brandbestryding baie onaangenaam gemaak.

“Die bemanningsleiers was op hoë gereedheid vir tekens van sonsteek, hitte-uitputting en ontwatering onder grondpersoneel.

“Die ongelyke, moeilike terrein is ook ’n uitdaging. Die meeste van die brande het plaasgevind in gebiede waar die terrein ongelyk was. Dit maak die deurkruising van die gebied moeilik en gevaarlik – veral in die nag.”

Otto het nog uitdagings uitgewys, soos nie-onderhoude uitheemse plantegroei op private grond en die gebrek aan brandstroke op nie-bewerkbare grond.

Rossouw doen verder ’n ernstige beroep op mense om nie in bergagtige gebiede vuur te maak nie omdat daar ’n groot risiko is dat die brand vinnig buite beheer kan raak.

“Mense moet hul gesonde verstand gebruik – dit is hoogsomer en die plantegroei is droog en brand maklik. Moet dus nie hierdie tyd van die jaar vure maak nie.

“Maak ’n vuur slegs in ’n afgebakende gebied – soos by Tweede Tol in Bainskloof.

“Dit moet oor en oor beklemtoon word.”

Stephan Landsberg, ’n Drakenstein-raadslid in Wellington, het intussen ’n brief aan onder andere die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, asook die LUR vir mobiliteit, Ricardo Mackenzie, gerig waarin hy sy kommer oor die situasie op Bainskloof by dié amptenare opper het.

“Hierdie is ’n jarelange probleem wat somermaande die kop uitsteek. Verskeie mense het al op sosiale media gekla en skrywes aan die owerhede gerig, maar dit bly op dowe ore val,” skryf Landsberg in die brief.

“Die enigste alternatiewe oplossing is dat ’n permanente provinsiale verkeersvoertuig 24 uur per dag patrollie moet doen en mense verwyder moet word, maar die eerste opsie is steeds dat die provinsie dit ’n tolpad moet maak, soos Chapman’s Peak, om die pas vir die nageslag te bewaar.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article