Shiraz die rifrughond soos gesien in die Paarlberg-natuurreservaat.Foto: Hanno Olivier

Credit: SYSTEM

Dit was hittete of ’n gesin van Vrykyk in die Paarl het hul geliefde rifrughond, Shiraz (12), nadat sy op 28 Januarie ontsnap het, nooit weer gesien nie.

As gevolg van ’n betrokke gemeenskap wat in ’n japtrap die nuus versprei en almal aangemoedig het om op die uitkyk te wees, is Shiraz ná drie dae veilig aan haar mense terugbesorg.

Volgens die gesin het hul geliefde rifrug nêrens anders as die Paarlberg-natuurreservaat gekies as haar tydelike tuiste nie, en sy is op 31 Januarie deur ’n stapper gewaar wat tot haar redding gekom het.

“Shiraz is ’n escape artist, en moes onderdeur ’n heining ontsnap het nadat sy vir iets geskrik het,” vermoed die gesin.

Volgens hulle is Shiraz van nature ’n senuweeagtige hond en is hulle gewoond aan dié karaktereienskap sedert hulle haar 10 jaar gelede gekry het.

“Ons het op die buurtwaggroep laat weet sy is weg, plakkate opgeplak en veeartse en die Paarl dierebeskermingsorganisaise (DBV) laat weet.”

“Ons het ook die nuus op Facebook-groepe geplaas, maar omdat die Facebook-groepe se administrateurs nie die plasings dadelik goedkeur nie, het dit nie lekker gewerk nie.”

Volgens die gesin het hulle oral gesoek, nooit “moed” opgegee nie en aanhou “hoop” dat hulle Shiraz wel sal opspoor.

“Iemand wat ons nie ken nie” het in die berg gaan stap en Shiraz gesien, waarna die man sy vrou laat weet het, en dié Shiraz se gesin gekontak het.

Volgens hulle was Shiraz honger en gedehidreer en het ná haar tuiskoms vir ’n hele paar uur gerus terwyl “alles na haar aangedra moes word”, het die gesin laggend vertel.

Ná die blaaskans was sy darem weer haar ou self.

Dit is ’n wonderwerk dat sy nie deur ’n motor raakgery is of op ’n ander manier seergekry het nie.

“Dit is ’n wonderwerk dat sy nie deur ’n motor raakgery is of op ’n ander manier seergekry het nie.”

Buiten die kussings onder haar pote wat stukkend geskaaf was, het sy geen ander fisieke beserings opgedoen nie.

“Shiraz, buiten die druifsoort, beteken ook grounded, en dit is ook hoe ons oor haar voel,” het die gesin gesê, met die bedoeling dat sy hulle almal gebalanseerd hou.

Dit was ’n wonderwerk en ’n getuigskrif vir hoe elkeen se handjievol omgee saam ’n verskil maak. Hoe sê mens dankie vir so ’n heldedaad en opoffering?

“Dit was ’n wonderwerk en ’n getuigskrif vir hoe elkeen se handjievol omgee saam ’n verskil maak. Hoe sê mens dankie vir so ’n heldedaad en opoffering?”

Die gesin wil al die rolspelers wat tot Shiraz se tuiskoms gelei het, bedank.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article