Beweerde sabotasie! Dit was een van die uitlatings uit sekere pro-regeringsgeledere kort nadat fase 6-beurtkrag ingestel is nadat die president in sy staatsrede verseker het dat beurtkrag iets van die verlede is. Of daar met die nasionale kragvoorsiener beraadslaag is voordat die stelling op nasionale televisie gemaak is en of die kragvoorsiener net soos ’n stout tiener teen die aankondiging gerebelleer het, is oop vir eie vertolking.
Maar in ware Suid-Afrikanergees was landsburgers vinnig om die gemoed met ’n grappie te bedaar en selfs tot Ramaphosa se verdediging te kom.
“Hy het nie gejok dat daar nie beurtkrag sal wees nie, daar is nou net hoegenaamd geen krag nie”, is een van die kwinkslae wat gegooi is. Verder was landsburgers dit eens: “Sona (sonder) elektrisiteit, sona water, sona skole en sona leierskap.”
Wat die res van die staatsrede betref, was landsburgers en politici vol kritiek en meen hulle is met meer vrae as antwoorde gelaat nadat die president nie veel tyd afgestaan het om oplossings vir van die land se uitdagings te bied nie en grappenderwys gespot het hy soek net ’n pen om die omstrede voorgestelde nuwe gesondheidswetsontwerp af te teken.
Alle oë is wel hierdie week op die provinsiale staatsrede, wat Maandagaand in die Paarl plaasvind.




