Die Drakenstein- munisipale gebou in die Paarl.Foto: Rasaad Adams


Die Drakenstein-munisipaliteit sê ná sy raadsvergadering op 28 Februarie vanjaar behoort daar meer duidelikheid te wees rakende bewerings dat hy in sy 2020- munisipale eiendomswaardasie sekere landelike eiendomme glo onderwaardeer en eiendomme in residensiële gebiede se waarde met bykans 20% verhoog het.

Die bewerings is aanvanklik gemaak deur Erik Marais, ’n ervare eiendomswaardeerder van Wellington, wat destyds glo ook in die munisipaliteit se waardasie- appèlkomitee gedien het.

Volgens Marais het die munisipale bestuur aan hom erken dat die landelike eiendomme se waardasies ernstige gebreke toon.

Hy het in daardie stadium gesê sekere landelike gebiede is in 2020 konserwatief met slegs 9% gemiddeld verhoog teenoor residensiële waardasies wat met 20% verhoog is.

Die munisipaliteit het gevolglik ’n onafhanklike beoordelaar in 2021 aangestel om Marais se bewerings na te gaan.

Die onafhanklike beoordelaar se bevindings is met die munisipaliteit se aanvanklike waardeerder van 2020 gedeel, wat toe ook die geleentheid gegun is om daarop te regeer.

Die heen-en-weer-uitruil van hierdie verslag het opposisiepartye soos die VF-plus sedertdien opstandig gemaak, wat beweer terwyl met die bekendmaking van die verslag gesloer word, verloor die munisipaliteit miljoene rande se belasting weens eiendomme wat destyds onderwaardeer is.

Paarl Post het verlede week met dr. Johan Leibbrandt, die stadsbestuurder, en Bradley Brown, die finansiële hoof by die munisipaliteit, oor die waardasies gepraat.

Volgens Brown is dit belangrik dat die publiek in die lig van Marais se bewerings besef waardasies kan en moet nie as presiese wetenskap geag word nie.

“Met enige waardasierol in enige munisipaliteit sal daar dus altyd besware, appèlle of navrae wees.

“Alle besware en appèlle word deur die munisipale eiendomsbelastingwette hanteer, soos voorgeskryf, en indien enige regstellings aangebring moet word, word dit deur middel van ’n aanvullende waardasierol gedoen.

“In hierdie geval het die munisipaliteit juis die onafhanklike beoordelaar in die naam van deursigtigheid aangestel om Marais se besware te ondersoek,” het Brown gesê.

Hy het bygevoeg munisipale wetgewing vereis dat die onafhanklike beoordelaar en munisipale waardeerder geleenthede gegun word om op mekaar se kommentare te reageer voordat die finale verslag openbaar gemaak word.

“Tussen die vrystelling van die voorlopige verslag en vandag was daar talle samesprekings tussen die onafhanklike beoordelaar en die munisipale waardeerder.

“Hulle stem oor verskeie punte saam en verskil oor sommige, gebaseer op hul professionele oordeel sowel as professionele skeptisisme.

“Nadat die munisipaliteit die onafhanklike beoordelaar se finale verslag op 11 Desember verlede jaar ontvang het, het die munisipaliteit dit administratief geëvalueer.

“Tans word ’n verslag vir die raad oor die aangeleentheid voorberei, wat op 28 Februarie ter tafel gelê sal word.”

Intussen het Leibbrandt erken dat die munisipaliteit uitdagings met dié waardasierol ervaar het aangesien dit in die piek van die Covid-19-pandemie uitgevoer moes word.

Hy sê dié uitdagings word tans in berekening gebring met die opstel van die tendervereistes vir volgende jaar se waardasierol.

Volgens Brown is die totale begroting vir volgende jaar se waardasietender sowat R6 miljoen.

“Die nuwe waardasietender tree op 1 Julie 2024 in werking.

“Aangesien die tender langer as drie jaar is, moet dit vir openbare kommentaar (status) geadverteer word, waarna ’n finale toekenning gemaak kan word.”

’n Munisipale waardeerder word vir ’n tydperk van vyf jaar aangestel, waarvan die eerste jaar gebruik word om tegniese beplanning vir die tender te doen.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article