Geniet die skouspel en saligheid van ’n volmaan-piekniek by die Taalmonument in die Paarl. Foto:


Met die somer wat einde se kant toe staan, kan besoekers die skitterende sterrehemel – spesifiek die veelkleurige Juweelkissie – verken tydens die Afrikaanse Taalmonument (ATM) se laaste sterrekykpiekniek op Paarlberg op Saterdag 2 Maart. Dit beloof om ’n feestelike aand in die beeldskone omgewing te wees; boonop is ’n pragtige sonsondergang en ’n gratis besoek aan die ikoniese beeldhouwerk ingesluit, én is die aand ten bate van ’n goeie saak.

Gaste sal die heelal verken met behulp van Orion Observasie Groep (OOG) se lede wat graag hul kennis en teleskope gratis deel. Die fokus is op die Juweelkissie – ’n oop sterrebondel styf langs die Suiderkruis – wat danksy sy skouspelagtige kleure ’n fees vir die oog is en as een van die mooiste voorwerpe in die suiderhemele beskou word. Die Juweelkissie is die eerste keer deur Nicolas Louis de Lacaille beskryf terwyl hy astrometriese waarnemings gedoen het vir sy 1751-1752- suidelike sterrekatalogus Cœlum Australe Stelliferum aan die destydse Kaap die Goeie Hoop.

Die pieknieks is gewild onder plaaslike inwoners en oorsese besoekers wat veral die mooi vergesigte van die valleie, berge en Skiereiland geniet.

Daar is buitelug-speletjies en speelparke vir die kinders.

Besoekers is welkom om hul eie pieknieks en drankies (geen glas) te bring of vooraf ’n piekniekmandjie by die Suikerkan by 082 216 2510/ 082 856 1871 of info@diesuikerkan.co.za te bestel. Onthou asseblief verkykers en warm klere. Die piekniekreeks word aangebied ten bate van Laat ons Lees!, die ATM se geletterdheidsprojek vir kinders. Derhalwe word piekniekgangers gevra om nuwe of tweedehandse kinderboeke te skenk.

Die aand begin om 18:00 waarna besoekers van 20:00 tot 22:30 deur die teleskope na die hemelruim kan tuur. Toegang kos R50 per volwassene en R15 vir onder 18’s; kaartjies is by Computicket of die hek beskikbaar, maar bespreking (021 863 0543/4809 of kommunikasie@taalmuseum.co.za) is noodsaaklik sodat daar vir genoeg teleskope voorsiening gemaak kan word. Die sterrekykpieknieks sal gekanselleer word indien die weer nie saamspeel nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article