Ou poskantoor in die Paarl só geplunder; ‘Prasa moet pa staan’

’n Groot deel van die ou poskantoor in die Paarl se dak is sedert Desember verlede jaar gevandaliseer.

Rasaad Adams

Die Paarl-belastingbetalersvereniging sê die Drakenstein-munisipaliteit is besig om sy eie plaaslike wetgewing te verontagsaam deur nie die nasionale regering aanspreeklik te hou vir die agteruitgang van die ou Paarlse poskantoor langs die Hugenote-treinstasie nie. Dié gebou het nou glo ’n blyplek vir haweloses en misdadigers geraak.

Die gebou word al vir ’n geruime tyd deur vermoedelik haweloses beset.

Ernstige vandalisme het egter volgens ondernemings in die nabye omgewing sedert Desember verlede jaar begin plaasvind, met ’n groot deel van die dak asook die meeste vensters wat sedertdien vernietig is.

Toe Paarl Post Maandag (26 Februarie) die gebou aan die kant van die Hugenote-treinstasie besoek, het ’n vuur in die gebou gebrand.

Feitlik al die gebou se vensters is ook gebreek.

Feitlik al die gebou se vensters is ook gebreek.

Die belastingbetalersvereniging meen die munisipaliteit se plaaslike wetgewing oor probleem-eiendomme is in dié stadium bloot ’n dokument wat hy versuim om te gebruik om druk op die nasionale regering te plaas om die situasie by die gebou aan te pak.

Die Drakenstein-munisipaliteit het in 2012 sy munisipale regulasie vir probleem-eiendomme in die provinsiale staatskoerant opgeteken, wat in 2020 aangepas is.

Dié regulasie, onderteken deur dr. Johan Leibbrandt, die stadsbestuurder, verklaar dat die munisipaliteit ’n mandaat het om die eienaar van enige eiendomme skriftelik te mag verwittig oor enige omgewings- en veiligheidskwessies wat deur die betrokke eiendom veroorsaak word.

Die wetgewing stel dan die munisipaliteit ook in staat om die eienaar strafregtelik te laat vervolg, sou daar nie gehoor gegee word aan sekere eise nie.

Dit is ’n skande dat die nasionale regering toelaat dat geboue in sy besit en beheer tot so ’n toestand verval.
David Frost, Paarl-belastingsbetalersvereniging

Volgens David Frost, voorsitter van die Paarl-belastingbetalersvereniging, is dié perseel en talle ander verlate geboue ’n seer oog.

“Dit is ’n skande dat die nasionale regering toelaat dat geboue in sy besit en beheer tot so ’n toestand verval. Met hierdie plaaslike wetgewing het die Drakenstein-munisipaliteit egter ’n middel tot sy beskikking wat hy versuim om toe te pas. Die wetgewing laat hom toe om die nasionale regering verantwoordbaar te hou vir die stand van die gebou,” het Frost aan Paarl Post gesê.

Hy sê inwoners is geregtig op ’n veilige en skoon omgewing.

“Op die ou einde gaan dit oor die sinlikheid en aansien van die dorp. Geboue is veronderstel om aantreklik te wees vir die bewoners van ’n omgewing. Dit kan nie in so ’n staat van verval wees nie.”

Die binnekant van die gevandaliseerde poskantoor.

Die binnekant van die gevandaliseerde poskantoor.

Seraj Johaar, die munisipaliteit se uitvoerende direkteur van korporatiewe en beplanningsdienste, het by navraag aan die koerant gesê die gebou behoort aan die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa).

“Drakenstein-munisipaliteit deel in die kommer oor veiligheid onder inwoners en sakeondernemings. Ons het al op verskeie geleenthede die kwessie met Prasa geopper en het eers onlangs terugvoer van hom ontvang.”

Volgens Johaar het Prasa die munisipaliteit ingelig dat ’n potensiële huurder belangstelling in die gebou toon.

Hy sê die munisipaliteit sal dus in dié verband die kwessie aanhou opvolg by Prasa.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article