Inwoners van Amstelhof – veral in die gebied van Suikerbekkiestraat – het die afgelope ruk talle klagtes geopper oor die geweldige stank en brommers wat nou in die baie warm weke oor die gebied gehang het.
Mense sê die reuk is ondraaglik en dit blyk weens ’n onvoldoende, verouderde dreineringstelsel wat hier pal verstop raak.
By navraag hieroor het Louis Pienaar, direkteur van ingenieursdienste by die Drakenstein-munisipaliteit, gesê hulle is bewus van die situasie, maar bygevoeg die probleem het weens onwettige aanbouings ontstaan.
Hy het gesê die huise in hierdie gebied is reeds in 1984 as ’n vorm van noodbehuising opgerig, maar het mettertyd permanente woonhuise geword.
“Van die inwoners het sedertdien onwettige aanbouings bo-oor die munisipale dienste wat destyds daar geïnstalleer is, gedoen.
“In dié spesifieke geval is ’n braaiplek bo-op ’n rioolpyp gebou, wat toegeval en verstop het. Die Drakenstein-munisipaliteit se span het dié verstopte pyp verlede week probeer oopmaak.
“Ons het met die inwoner ooreengekom dat die braaiplek verwyder moet word, wat tot dusver nog nie gebeur het nie. Sodra die braaiplek verwyder is, sal ons die pyp kan vervang.”




