Die Drakenstein- munisipale gebou in die Paarl.

Drakenstein-munisipaliteit

In ’n langverwagte verslag oor beweerde inkonsekwenthede met sy 2020-waardasierol wat uiteindelik op vandeesweek se raadsvergadering bekend gemaak is, sê die Drakenstein-munisipaliteit hy hou by die waardasies wat deur sy aanvanklike waardeerder in 2020 gedoen is. Die munisipaliteit het bewerings dat sekere landelike eiendomme onderwaardeer is, verwerp.

Die bewerings is aanvanklik gemaak deur Erik Marais, ’n ervare eiendomswaardeerder van Wellington, wat ook in die munisipaliteit se waardasie- appèlkomitee dien.

Volgens Marais het die munisipale bestuur aan hom erken dat die landelike eiendomme se waardasies ernstige gebreke toon.

Hy het in daardie stadium gesê sekere landelike gebiede is in 2020 konserwatief met slegs 9% gemiddeld verhoog teenoor residensiële waardasies wat met tussen 18% en 20% gemiddeld verhoog is.

Die munisipaliteit het gevolglik ’n onafhanklike beoordelaar in 2021 aangestel om Marais se bewerings na te gaan.

André Fourie, ’n VF Plus-raadslid in die munisipaliteit, het op ’n raadsvergadering van 27 Oktober verlede jaar ses landelike eiendomme uitgewys wat volgens Marais onderwaardeer is en daartoe gelei het dat die munisipaliteit inkomste van bykans R3 miljoen tussen Julie 2021 en Junie 2023 verloor het.

’n Verslag oor dié ondersoek is op Woensdag (28 Februarie) se raadsvergadering voorgelê.

In ’n verklaring op grond van die verslag wat deur die munisipaliteit eksklusief aan Paarl Post uitgereik is, sê die munisipaliteit sy ondersoek bevind Marais se bewerings is ongegrond.

“Die munisipaliteit is van mening dat die sogenaamde ‘laer waardasie’ regverdig is veral omdat dit in die middel van die Covid-19-pandemie gedoen moes word. In hierdie tyd het daar min landbouaktiwiteite plaasgevind.

“Waardasies is nie ’n presiese wetenskap nie en met enige waardasierol sal daar besware, appèlle of navrae wees afhangend van die belang van die persoon wat dit opper.”

Die munisipaliteit sê bewerings deur Marais dat die raad miljoene rande se belasting- inkomste-invordering weens die onderwaardering ervaar, is ongegrond.

“Volgens meneer Marais het die beweerde onderwaardering van 9% by landelike gebiede daartoe gelei dat die munisipaliteit sowat R30 miljoen se eiendomsbelasting verloor. Hy beweer dan verder dat eiendomme in die residensiële gebiede vir hierdie verliese moet opmaak.

“Die munisipaliteit wil hiermee daarop wys dat sou eiendomme in die landelike gebiede wat deur Marais uitgewys is, met 18% gemiddeld in plaas van 9% verhoog word, sou die munisipaliteit sowat R1,5 miljoen in eiendomsbelasting ingevorder het. Dit is nie naby aan die R30 miljoen soos deur Marais beweer nie.”

Volgens die munisipaliteit het sy aangestelde onafhanklike beoordelaar en die aanvanklike waardeerder “meestal ooreengestem” oor die waardasierol.

Die munisipaliteit sê hy beskou die ondersoek na Marais se bewerings as afgehandel.

“Ons sal in dié stadium nie graag landelike eiendomme wil herevalueer nie aangesien eiendomsbelasting van landelike eiendomme in totaliteit slegs 3,8% tot ons totale eiendomsbelasting-invordering bydra.”

Die munisipaliteit het intussen bevestig dat die tender vir volgende jaar se waardasie op 1 Mei vanjaar geïmplementeer sal word. ’n Munisipale waardeerder word vir ’n tydperk van vyf jaar aangestel, waarvan die eerste jaar gebruik word om tegniese beplanning te doen.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article