Abranichia Morris (13). Foto: Argief

Credit: SYSTEM

Abranichia Morris (13) van Simondium veg al sedert April verlede jaar ’n kankerstryd nadat die dokters alle behandeling vir haar fase-vier-breinkanker gestaak het.

Volgens Michelle Jonathan, Abranichia se stiefma, het Abranichia reeds in Februarie 2023 gekla van “maagpyn, naarheid en moegheid” waarna haar pa, Abraham Morris, en stiefma haar dadelik by die dokter gehad het.

Dié het toe vir die Morris-Jonathan-gesin gesê dat Abranichia ’n maagvirus het.

“Maar ’n ma het ’n gevoel,” het Michelle gesê en verduidelik dat haar stiefdogter steeds aanhoudend gekla het van pyn. Michelle het haar toe na die Tygerberg-staatshospitaal vir verdere toetse geneem.

Abranichia was veronderstel om in Mei 2023 met bestraling te begin, maar as gevolg van ’n fout in Tygerberg-hospitaal se bestraling-toerusting het sy eers in Junie met behandeling begin.

Abranichia se stryd het nie daar geëindig nie. Sy is verder uitgedaag met diabetes, ’n swak immuunstelsel en rekmerke op haar lyf weens ’n verdunde vel.

Sy was ook in ’n diabetiese koma en moes vir twee weke in die hospitaal aansterk.

Al dié gesondheidsprobleme is meegebring weens ’n negatiewe reaksie teen haar medikasie en die bestraling.

Die dokters het intussen alle behandelinge stopgesit omdat die kanker te ver gevorderd is en vir die gesin gesê hulle moet hul bruin-oog-heldin eerder “gemaklik” kry.

Abranichia Morris het regoor haar lyf rekmerke begin ontwikkel na die kanker-medikasie wat sy ontvang het. Foto: Argief

Die kanker sit tans in die middel van haar brein en is besig om na die linkerkant te versprei.

“Sy is tans lam aan die een kant, en het baie pyn. Indien die pyn voortduur en die huidige medikasie nie help nie, sal ons [Abranichia en Michelle] Tygerberg-hospitaal op 13 Maart vir ’n morfien-inspuiting besoek,” sê Michelle.

’n Mens besef nooit hoe sterk jy is totdat jy in hierdie situasie is nie.
Michelle Jonathan

“ ’n Mens besef nooit hoe sterk jy is totdat jy in hierdie situasie is nie,” het Michelle gesê, en verduidelik dat die gesin dit dag vir dag vat en vir elke oomblik saam met Abranichia leef.

Volgens haar wil haar stiefdogter nog baie doen, soos om op die strand te gaan stap, of die Waterfront te besoek. Hulle kan dit egter nie bekostig nie omdat beide sy en Abraham werkloos is.

Die Morris-Jonathan-gesin van Simondium. Van links is Abraham Morris (pa), Abranichia Morris (13), Dayton Jonathan (9), en Michelle Jonathan (stiefma). Foto: Argief

“Ons het baie geleer in die proses. Dit het ons nader aan mekaar gebring en ons op ons knieë gehou,” het Michelle gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article