Die Paarl het nie die ooievaar hierdie skrikkeljaar misgeloop nie.
Altesaam elf babas is op skrikkeldag, verlede Donderdag (29 Februarie), by die Paarl-hospitaal gebore.
Die Mediclinic in die Paarl het ook drie geboortes gehad, het Jacorie Visagie, die hospitaal se bestuurder van pasiënt-ervaring, bevestig.
Twee seuntjies en een meisietjie is hier gebore.
Nadija en Adriaan Hattingh se jongste toevoeging tot hul gesin is een van die seuntjies wat sy verskyning gemaak het.
Volgens Nadija was dit ’n chaotiese dag, want manlief se wysvinger is op dieselfde dag ook afgesit.
“Ons het glad nie verwag dat ons seuntjie Abel op skrikkeldag gebore sou word nie. My man het ’n ongeluk met ’n slypmasjien gehad en sy vinger moes afgesit word, en in die hele mix is ons babatjie gebore. Ek is eers teater toe geneem vir die geboorte en my man was saam, en ná die tyd toe is hy teater toe geneem vir die amputasie,” vertel sy laggend.
Volgens Nadija was sy al heeltemal oor haar tyd en al 10 maande swanger.
“Ons het gewag en gewag vir hom om te kom en toe het dit uiteindelik op ’n tydstip gekom waar dit gevaarlik geraak het vir hom om nog langer in my te wees. Die dokters het dit eers agtergekom terwyl ons by die hospitaal met my man besig was.”
Abel is deur ’n keisersnee gebore en het ’n allemintige 3,8 kg geweeg.
“Ek en Adriaan dink dis eintlik baie cool, uniek en spesiaal dat Abel op die 29ste gebore is. Ons het nie eens besef dit is ’n skrikkeljaar nie, totdat ons babatjie gebore is.
“Toe sê my man ons gaan nou moet kies tussen ’n dag, en ek het gevra ‘wat bedoel jy?’.
“Toe sê hy vir my, nee, ons babatjie is op skrikkeldag gebore, so ons sal moet kies tussen 28 Februarie of 1 Maart vir sy verjaarsdag, en ek was verstom. Ek het nie eens geweet dit is hoe dit werk as ’n kind op skrikkeldag gebore is nie. Ons het gedog dit gaan ’n Valentynsdagbaba wees, maar dit lyk my hy wou op skrikkeldag gekom het.”
Die fiksheidsghoeroe Olivia Losper van die Paarl en haar man, Aulanté, se pragbaba is ook op skrikkeldag gebore.
Volgens Olivia het sy nie eens geweet wat die datum was tydens die geboorte nie omdat sy reeds die vorige dag (28 Februarie) kontraksies begin kry het.
“Ek was so in ’n trance met die kontraksies dat ek glad nie eens gedink het aan die feit dat ons babatjie op Skrikkeldag gaan kom nie. Toe ons uiteindelik besef wat die datum is, het ek vir sy pa gesê hy sal moet besluit wanneer sy kind verjaar,” sê sy giggelend.
Klein Leo Losper is op 39 weke en drie dae deur ’n keisersnit gebore. Hy het 3,5 kg geweeg.
“Ons het beplan vir hom, maar hy het ’n bietjie vroeër gekom. Ek het gedog ek gaan 40 weke vol loop, maar hy het sy eie tyd en is ’n absolute spesiale babatjie. Hy het ’n wil van sy eie. Ek was letterlik nog die Woensdag by die dokter en hy het gesê my serviks is nog hard en ek sou minstens nog ’n week so loop, en die volgende dag toe gee ek geboorte. Dit het sommer vinnig verander.”
Oor haar mening oor skrikkeldagbabas sê Olivia “hulle is seker maar ekstra spesiaal”.. Die babadogtertjie se ouers kon nie bereik word nie.. Navrae is aan die Paarl-hospitaal oor enige skrikkeldagbabas gerig, maar geen terugvoer is teen druktyd ontvang nie.




