Elmarie Dindal (links) en Charl September hou ’n foto van Elvito Dindal (10) vas in hul huis in Smartie Town in Groenheuwel, Paarl-Oos. Foto: Jana Scheepers


“Hy was ’n lieflike klong; ek gaan hom mis.”

Dít was die woorde van Elvito Dindal (10) se ma, Elmarie Dindal, aan Paarl Post nadat haar seun die afgelope Sondagoggend (3 Maart) op die Mountain Ridge-bouterrein in Groenheuwel in Paarl-Oos dood is nadat sand op hom geval het, en hy klaarblyklik versmoor het.

,

Elvito Dindal (10). Foto: Verskaf

Volgens kapt. Basil Seekoei, ’n woordvoerder van die Paarl-Oos-polisie, het die voorval omstreeks 10:00 plaasgevind.

Luidens die Dindal-familie van Smartie Town, ook in Groenheuwel, het Elvito saam met sy jonger broer, Char-miel Dindal (5) en die sibbe se vriend, AJ Arendse (8), na die bouterrein naby Kanferlaan gegaan – waarskynlik om daar te gaan speel.

j

Char-miel Dindal (5). Foto: Argief

Die sibbe en hul vriend het blykbaar in ’n gat in klei-agtige grond op die perseel gespeel en ’n stok gebruik om ’n “tonnel” deur die grond te probeer oopgrawe.

Die grond het toe inmekaargetuimel en Elvito, Char-miel en Arendse onder ’n hoop klei-sand in die gat vasgevang.

Klein Char-miel kon ontsnap met Arendse se hulp en was op pad huis toe om sy familie oor die voorval in te lig, volgens hul stiefpa, Charl September.

mk

AJ Arendse (8). Foto: Argief

“Dit blyk hulle [die sibbe en hul vriend] het op ’n bouterrein gaan speel.

“Die kwessie van hoe dit gebeur het, vorm deel van die ondersoek wat tans nog in ’n vroeë stadium is,” volgens Seekoei.

“Daar word geglo dat die drie seuns deur die veiligheidswag onder die grond gevind is nadat hy stemme gehoor het [wat geskree het] om hulp.

“Hierna is die polisie in kennis gestel.”

September se weergawe het egter verskil, wat verduidelik dat ’n kerkganger vir Char-miel gehelp het.

kmmk

Die ongelukstoneel Sondagoggend. Foto: Skermgreep/ EJ Breakingnews

“Hy [Char-miel] het toe verby ’n kerk-man [kerkganger] gestap wat toe vir hom [Char-miel] gevra het ‘hoekom lyk jy so’?” en beduie na die sand en vuil merke op Char-miel se klere, het September gesê.

Die kerkganger was ’n polisiebeampte en het dadelik die Paarl-Oos-polisie ontbied toe hy die nuus hoor, waarna die polisie op die toneel aangekom het en vir Elmarie se “baby-klonkie” soos sy vir Char-miel noem, huis toe gevat om die familie in te lig.

Elvito is op die toneel dood verklaar terwyl Arendse deur ambulansdienste gestabiliseer is, en is Sondagaand ná 22:00 uit die Paarl-Oos-hospitaal ontslaan.

Volgens Elmarie het die familie nie geweet dat die drie kleuters Sondagoggend op die bouterrein gaan speel nie, en het hulle gedink hulle speel iewers naby aan die huis.

September het verduidelik dat dit nie die eerste keer is dat Elvito en Char-miel op die terrein gaan speel nie.

“Elvito was ’n goeie sportman; hy het goeie rugby en krieket gespeel,” volgens sy ma, wie se trane vlak gelê het tydens ’n telefoongesprek.

Sy het ook genoem dat haar seun ’n soettand gehad het en “baie lief” was vir lekkers en tjips.

Die terrein word bestuur deur die ASLA-konstruksiemaatskappy en daar gaan binnekort huise gebou word.

Elvito se begrafnisreëlings moet nog bekendgemaak word en die polisie is steeds besig met die ondersoek.

Hy was ’n gr. 5-leerder aan Groenheuwel Primêre Skool.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article