Matthew Fortuin (5, middel) saam met Michaela Fortuin (sy ma, links), en Lynn Fortuin (ouma, regs). Foto’s: Jana Scheepers


Die sprankelende Matthew Fortuin (5) van Amstelhof in Paarl-Oos, ’n gr. R-leerder aan die William Lloyd Primêre Skool, het in ’n fratsongeluk op 1 Februarie ’n gedeelte van sy regterbeen verloor, maar het die ongeluk danksy ’n vreeslose gemeenskap oorleef en is vandag steeds sy ma en ouma se trots.

Matthew se ma, Michaela, en ouma Lynn het vertel op die dag van die tragedie het hul bruinoog-kleuter teen ’n venster geskop. Hulle het hom verskeie kere gewaarsku om op te hou, maar die kleuter het hom nie aan hul pleidooie gesteur nie.

Hulle het skielik ’n geweldige slag gehoor, en toe hulle omkyk, het hulle ’n bebloede Matthew gesien met ’n groot glasstuk wat uit sy been steek.

Een van Matthew se hoofslagare was afgesny, en daar was bloed net waar jy kyk met etlike minute oor om hom te red.

Matthew Fortuin (5).

Aangesien die Fortuin-gesin nie ’n voertuig het nie, moes hulle dadelik ’n plan beraam om Matthew by ’n dokter te kry. Hulle het toe ’n verbygaande motor in die straat voor hul huis voorgekeer, waarna dié barmhartige samaritaan die gesin na ’n dokter geneem het.

Michaela vertel onderweg na die spreekkamer was Matthew in ’n erge toestand van skok, met spoeg wat by sy mond uitgeloop het, en sy oë wat ook agtertoe gerol het. Dít was weens die groot hoeveelhede bloed wat Matthew verloor het as gevolg van die slagaar wat getref is.

“Die hele kar was vol bloed, maar die bestuurder van die kar het nie twee keer gedink om ons te help nie,” het Michaela vertel.

Met hul aankoms by die spreekkamer het die dokter dadelik die kleuter deurgejaag na die Paarl-staatshospitaal, waar hulle “wonderlike” diens ontvang het, vertel Lynn.

“Hulle [die Paarl-staatshospitaal] het Matthew dadelik opgeneem en sy been onder verdowing aanmekaar vasgekram.”

Daarna is die brawe kleuter dieselfde dag met ’n helikopter na die Tygerberg-hospitaal oorgeplaas, omdat hy in ’n kritieke toestand was en so gou moontlik by die hospitaal moes uitkom.

“Die dokters het hom op 1 Februarie geopereer en sy senings geheg en daarna gewag om te kyk of die slagaar en ander senings [natuurlik] aanmekaar heg,” volgens Michaela.

Op 3 Februarie het die dokters die moeilike besluit geneem om Matthew se been af te sit weens ’n groot gevaar van septisemie en ’n tekort aan bloedvloei na dié deel.

Dit was baie uitdagend die eerste week, en Matthew het die heeltyd gevra ‘mamma, waar is my been’? Ek kon hom nie antwoord nie, ek het nie geweet hoe nie.
Michaela Fortuin

“Dit was baie uitdagend die eerste week, en Matthew het die heeltyd gevra ‘mamma, waar is my been’? Ek kon hom nie antwoord nie, ek het nie geweet hoe nie,” het Michaela gesê.

Nietemin glinster Matthew se ogies weer en raak hy stadig maar seker gewoond aan hierdie ‘nuwe normaal’.

Hy [Matthew] het baie groot geskrik, maar is vandag weer die gelukkige Matthew wat ons almal ken.
Michaela Fortuin

“Hy [Matthew] het baie groot geskrik, maar is vandag weer die gelukkige Matthew wat ons almal ken,” volgens sy ma.

Volgens Lynn gaan haar kleinseun ook binnekort ’n prostese ontvang saam met rehabilitasiewerk by ’n fisioterapeut.

Die Fortuin-gesin wil graag alle rolspelers bedank wat bygedra het tot Matthew se suksesvolle herstel.

Dit sluit in die motoris wat sonder huiwering die gesin na die dokter geneem het, die staatshospitale wat Matthew behandel het, asook sy skool- en kerk-gemeenskap sowel as die breër Paarl-Oos gemeenskap.

“Ek het [uit hierdie ervaring] geleer dat God werklik bestaan,” het Michaela gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article