Christiaan en Tashé Kotze saam met hul dogters wat al drie op 7 Maart verjaar. Van links is Mihané (1), Lienke (2) en Chrissie (een week).


Wat is die kans dat ’n ma geboorte skenk op dieselfde datum in drie agtereenvolgende jare? Wel, dit is die storie van die Kotze-gesin in die Paarl.

Hoewel dit soos ’n bogstorie klink, is dit waar dat Tashé Kotze op 7 Maart van 2022, 2023 en 2024 geboorte geskenk het aan drie gesonde babas. Boonop is dit drie dogtertjies wat by die Mediclinic Paarl in die lewe gebring is.

Sy en haar man, Christiaan Kotze, kan dit steeds nie glo nie.

“Jissie ja! Ek kan dit nog nie glo nie. Ek sê vir my man nou die dag dit is ’n klein wonderwerk. Ons het nie daarvoor beplan nie; dit het maar net so uitgewerk,” vertel Tashé.

“Die jongste een sou eintlik middel of einde Maart gekom het, maar toe sê my dokter hoekom maak ons nie die keiser maar twee weke vroeër nie en dan doen ons dit op dieselfde verjaarsdag, want dit sal so ’n koel storie wees om eendag te vertel.”

Volgens die Amerikaner Roger Heath-Brown, ’n emeritusprofessor in wiskunde aan die Universiteit van Oxford, is die kans dat drie sibbe wat nie ’n drieling is nie, op dieselfde datum gebore word, ongeveer 1 uit 100 000.

Ouma Grieta van Zyl, Christiaan se ma, is ook baie opgewonde, veral omdat al drie kleinkinders ’n dag voor haar verjaar.

“Ek is so in my noppies. Ek is bevoorreg dat al drie kleinkinders op 7 Maart verjaar. En weet jy wat – dit was glad nie beplan nie. Dit was liewe Jesus se beplanning,” lag Van Zyl.

“Die oudste meisiekind is twee jaar oud en die ander een is een jaar oud, en dan is dit mos die enetjie wat vanjaar gebore is. Die oudste een is Lienke (2), dan is dit Mihané (1) en dan klein Chrissie (een week). Ek is so trots – ek kan bars van trotsheid.”

Van Zyl vertel toe Lienke gebore is, het die familie nie juis regtig baie aan haar verjaarsdag gedink nie, maar toe Mihané die jaar daarna op dieselfde datum gebore is, was die familie in die wolke.

“Hulle is geskenke van God. Ek weet met Mihané het hulle (Tashé en Christiaan) voorbehoeding gedoen en dit lyk my nou het nie gewerk soos dit moet nie. Ek onthou nog ná Mihané wou my skoondogter die voorbehoeding-ding doen, en toe is sy weer swanger.”

Al drie dogtertjies is in die lewe gebring via keisersnee met die hulp van dr. Auden Carolissen.

Die Kotze-gesin is net bly dat al drie hul dogters gesond is.

Op die vraag of hulle ons met nog ’n 7 Maart-baba gaan verras, antwoord Tashé laggend. “Dit sal great wees om dit te kan doen, maar ek dink nie my liggaam kan nou nog meer vat nie.

Shame, my skoonma het nou die dag gesê sy het vir drie jaar agtermekaar glad nie ’n verjaarsdag gehad nie, maar ek sê vir haar ons gee haar elke jaar ’n groot geskenk.”

Die Kotzes is dankbaar vir die kroos wat hulle ontvang het, maar nog meer dat hulle nou net nodig het om elke jaar een groot partytjie hoef te reël.

. The Kotze-family welcomed all three of their daughters into the world on the same date in three consecutive years.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article