Sy standpunt was van die begin af dat hy sal veg om sy onskuld te bewys, en nou is hy gereed om aan te beweeg ná die “onnodige politieke en media-aanslae” op sy lewe. Só het Conrad Poole, die uitgeskopte Drakenstein-burgemeester, vandeesweek aan Paarl Post gesê, presies ’n week nadat hy as lid van die Wes-Kaapse wetgewer beëdig is.

Poole is die afgelope twee weke deur ’n vlaag politieke wendinge as openbare amptenaar in die gesig gestaar, wat begin het met ’n geslaagde wantrouemosie as burgemeester van die Drakenstein-munisipaliteit aan die einde van verlede maand.

Met dié mosie het enkele raadslede van sy eie DA-party vir sy verwydering gestem.

’n Week later is hy beëdig as lid van die Wes-Kaapse provinsiale wetgewer om die vakante posisie van Dan Plato te vul.

Plato het verlede maand as ’n DA-LPW bedank en by die People’s Movement for Change (PMC) aangesluit.

Die DA in die Wes-Kaap se besluit om Poole na die wetgewer te skuif, is verlede week wyd gekritiseer in die lig van die vele onbeantwoorde vrae rakende die sogenaamde “betaal-vir-werk”-skema wat Poole na bewering onder sy burgemeesterskomitee bestuur het.

’n Ondersoek na dié bewerings is einde verlede jaar deur die Drakenstein-speaker van stapel gestuur, waartydens ’n Kaapstad-gebaseerde regsfirma wel prima facie-bewyse gevind het dat Poole moontlik die gedragskode vir raadslede oortree het.

Enkele dae nadat Poole deur die wantrouemosie as burgemeester verwyder is, het die Speaker dié ondersoek laat vaar nadat dit volgens hom nie enige bewyse of getuienis opgelewer het nie.

My posisie van die begin af was dat ek onskuldig was, ongeag die opposisie se geraas en ongegronde aantygings en media-aanslae. Daarom het ek ook onvoorwaardelik ingewillig vir die onafhanklike ondersoek.
Conrad Poole, voormalige Drakenstein-burgemeester

Poole het vandeesweek aan Paarl Post gesê hy is verheug dat sy naam uiteindelik skoon is.

“My posisie van die begin af was dat ek onskuldig was, ongeag die opposisie se geraas en ongegronde aantygings en media-aanslae.

“Daarom het ek ook onvoorwaardelik ingewillig vir die onafhanklike ondersoek. Die Drakenstein-speaker se mediaverklaring is baie duidelik en sluit ook daardie tragiese en onnodige hoofstuk in my roeping as ’n openbare dienaar en verteenwoordiger af.”

Die VF Plus, een van die opposisiepartye wat die mosie teen Poole ondersteun het, sê die DA se besluit om Poole na die wetgewer te skuif, is niks anders as kaderontplooiing nie – iets waarvan hulle [die DA] gedurig die ANC beskuldig.

“Dit is dieselfde party wat pas ’n hofsaak gewen het teen die ANC om sy lys van kaderontplooiings bekend te maak.

“Die DA volg dieselfde praktyk as die ANC skaamteloos. G’n wonder daar word verwys na die DA as ’n afstammeling van die ANC nie,” sê André Fourie, ’n VF Plus-raadslid.

Die DA het duidelik geen probleem daarmee om vir sy politieke kaders, wat van bedrog beskuldig word, ’n sagte landing te gee nie.
Keagen Gertse, GOOD-party

Keagen Gertse, raadslid vir die GOOD-party in Drakenstein, sê Poole se skuif is ’n “klap in inwoners se gesig”.

“Die DA het duidelik geen probleem daarmee om vir sy politieke kaders, wat van bedrog beskuldig word, ’n sagte landing te gee nie.

“Ná sy verwydering deur ’n wantrouemosie sou ’n mens verwag dat die DA dit as ’n geleentheid sou gebruik om sy plaaslike leiers te herevalueer.

“In plaas van dit te doen, beloon hulle onbevoegdheid met ’n gemaklike stoel in die provinsiale wetgewer.”

Volgens Gertse lyk dit asof die DA enigiets sal doen om te verhoed dat die bewerings teen Poole getoets moet word.

“Ons het skriftelik versoek dat die Speaker moet bevestig dat Poole nie deur die DA beskerm word nie en dat die raad se ondersoek na die Valke verwys word,” het hy gesê.

Gertse sê indien die Speaker versuim om die ondersoek na die Valke te verwys, sal sy party dit self doen.

Intussen is ’n raadsvergadering wat vir vandeesweek, Woensdag 13 Maart, beplan is, tot verdere kennisgewing uitgestel.

’n Nuwe uitvoerende burgemeester sou op dié vergadering verkies word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article