Johan Williams (52). Foto: Argief


Die reeksmoordenaar en verkragter van Wellington, Johan Williams (52), het op 7 Maart in die Kaapse Hooggeregshof verskyn as deel van sy vonnisoplegging, waar die saak weer uitgestel is, tot 15 April.

Dít nadat Williams sy regsverteenwoordiger afgedank het.

Volgens ’n bron verbonde aan die Wellington-polisiekantoor het Williams die pleitooreenkoms van 40 jaar wat hy met die staat aangegaan het, verwerp, en daarmee saam ook aansoek gedoen om ander regsverteenwoordiging.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, het dié inligting bevestig.

Williams is in Julie 2018 deur die Wellington-polisie op drie aanklagte van moord teen Chantell Matthysen (21), Maria Isaacs (35) en Natalie Jonkers (35) in hegtenis geneem.

Tans het die aanklagte teen hom meer as verdriedubbel nadat drie aanklagte van moord asook “vier verkragtings, drie aanklagte van poging tot verkragting, ses aanklagte van ontvoering, huisbraak, aanranding met die doel om ernstig te beseer, brandstigting en dat hy versuim het om gehoor te gee aan ’n beskermingsbevel,” volgens ’n berig van Netwerk24.

Williams het kwesbare vroue geteiken wat werk of finansiële bystand gesoek het. Hy het dan hulp aan hulle beloof en stelselmatig hul guns gewen waarna hy hulle sou ontvoer en in sommige gevalle sou verkrag en vermoor.

Williams het vir Jonkers in 2012 ontvoer en vermoor en haar lyk sewe maande later op die Helpmekaar-plaas op die R45 buite Wellington uitgewys.

Matthysen, van Kuilsrivier, het hy in 2018 ontvoer en vermoor nadat hy vir haar werk belowe het. Haar lyk is langs die Bergrivier in Wellington gevind.

“Hy [Williams] het haar [Matthysen] eers bevriend en selfs ’n Kersete saam met haar en die familie geniet,” luidens die berig van Netwerk24.

Isaacs, Williams se derde slagoffer, het hy ook in 2018 ontvoer en vermoor nadat hy haar kwansuis ’n werksgeleentheid by ’n vervoermaatskappy in Touwsrivier beloof het.

Haar lyk is ’n klipgooi van Matthysen s’n gevind.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article