George Foley, ’n finansiele raadgewer, deel die geheime van entrepreneurskap in sy boek vir oud en jonk, Dream big start small, waarin hy meer as 1 000 idees vir haalbare en uitvoerbare sake-idees gee.


Suid-Afrika sit tans met een van die hoogste werkloosheidsyfers ter wêreld. Boonop kan slegs minder as 10% van die land se bejaardes bekostig om gemaklik af te tree.

Dus, vir oud en jonk is entrepreneurskap nou nog belangriker as voorheen.

En dit is presies die soort kultuur wat George Foley probeer skep met sy boek Dream big start small.

Foley, ’n gesertifiseerde finansiële raadgewer by Discovery en voormalige joernalis, is passievol oor entrepreneurskap en het sewe jaar lank navorsing gedoen om bekostigbare en uitvoerbare idees vir nuwe ondernemings te bepaal.

So het hy stelselmatig meer as 300 idees neergepen vir klein ondernemings wat jy kan begin met net R1 000 – van tegnologieklasse vir senior burgers tot gebakte lekkernye vir honde.

Foley sê deur die jare het hy talle mense ontmoet wat onder meer werkloos is ongeag goeie kwalifikasies of wat hul inkomste moet aanvul om hul verpligtinge na te kom. As hy dan voorstel hulle begin hul eie onderneming, was die vraag altyd: “Maar wat?” En dit spruit grootliks daaruit dat mense dink hulle het nie genoeg geld om self iets te begin nie.

Met hierdie boek, sê Foley, wil hy mense hoop gee.

Dit is die tweede druk en dié keer het hy ook 130 idees ingesluit vir ondernemings wat kinders kan begin. (Sien die kassie hiernaas.)

“Elke onderneming begin met ’n idee. Dit hoef nie nuut te wees nie, maar dit moet in ’n behoefte voorsien om suksesvol te wees,” sê Foley.

Uiteindelik het hy 347 idees neergepen vir ondernemings wat jy met minder as R1 000 kan begin. Dit sluit in tegnologieklasse vir senior burgers, gebakte lekkernye vir honde of jy kan ekstra lang elektriese verlengingskoorde maak en verkoop.

Met minder as R5 000 se beginkapitaal kan jy dink aan die herstel van ou skoene, verkoop van vuurmaakhout, maak van feetjie- of brandweerman­uitrustings vir kinders, of gedenkplaatjies vir gestorwe troeteldiere.

Foley skryf onder meer oor Miguel Hetzel, wat ’n paar jaar gelede op 14 as hoërskoolseun in Klerksdorp messe begin maak het met sy oupa se gereedskap.

Hy het sedertdien al meer as R250 000 daarmee verdien, al verskeie toekennings ontvang en is die jongste lid van die Kaapse Mesmakersgilde.

’n Derde druk van die boek is op pad en sal sake-idees insluit vir mense ouer as 60 wat hul aftree-inkomste wil aanvul.

Almal begin iewers, wys Foley uit. Internasionale maatskappye soos Nike, Amazon en Apple is almal in iemand se motorhuis begin. Suid-Afrika se eie suksesverhale wat klein begin het, sluit in Joko Tea, Mrs. H.S. Ball’s-­blatjang en Ouma-beskuit.

Die boek bevat meer as 60 idees vir aanlyn ondernemings, asook idees vir mobiele ondernemings (soos ’n mobiele platejoggie, ’n afleweringsdiens vir middagetes, ’n mobiele grassnydiens of ’n troeteldier-salon wat na mense se huise gaan).

Ander idees is:
. skakel ’n nutsman. koekversiering. ry huiseienaars se rommel of oorbodige artikels weg. bied ekstra wiskunde- of taalklasse aan. verkoop tweedehandse klere. knap gebruikte rekenaars op en verkoop dit. pak en verkoop goed toegeruste noodhulpkissies. verkoop spookasem by sportgeleenthede of konserte. vervoer kinders na en van skole. reël spa-partytjies

Berei só voor

Indien jy voltyds werk en oor ’n paar jaar jou eie onderneming wil begin, moet jy reeds vroeg begin voorberei, sê Foley.

Hy stel onder meer voor jy moet bereken hoeveel kapitaal jy benodig om te begin. Dra soveel as moontlik tot jou spaarrekening by en besnoei jou uitgawes drasties.

Foley se sake-idees vir kinders sluit in:


.
’n mobiele papier­-snip­perdiens. naskoolse klasse. vooraf uitgewerkte skattejag-pakkette vir kinderpartytjies. gee mense se plante water wanneer hulle nie tuis is nie. doen naels of grimering by partytjies. maak en verkoop jou eie handelsnaam-sokkies. bied jou dienste aan om gloeilampe in huise te vervang. gholfjoggie. help kleinsakeondernemings met hul sosialemediaveldtogte. lees stories vir kinders tuis teen betaling. vra geld om namens mense in ’n ry te staan (vir rekeningbetalings, ens.). herstel fietse.

Die boek kos R350 en is by groot boekwinkels beskikbaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article