Die Paarl word weer eens met trots in vanjaar se Mev. SA-kompetisie verteenwoordig met twee jong getroudes wat as semifinaliste aangewys is.
Kim-Lee Ricketts en Wilechia van der Westhuizen staan albei ’n kans om met die Mev. SA-kroon weg te stap. Hulle sien ook uit na die reis waarop die kompetisie hulle sal stuur.
“Ons woon tussen Simonstad en die Paarl en het besluit om ’n vakansiehuis in Paarl/Franschhoek te koop, wat gou ons tussen-huis geword het wanneer ons by gemeenskapsprojekte en feeste in die streek betrokke raak,” vertel Ricketts oor haar en haar man, Jarrad Ricketts, ’n sanger.
“Ons het verlief geraak op die gemeenskap van die Paarl en resoneer met die gesinswaardes wat ons by al die wonderlike individue wat ons uit die streek leer ken het, ervaar het.”
Volgens Ricketts is sy tydens ’n vrouenetwerkgeleentheid genader om vir die kompetisie in te skryf en sy het besluit om die kans te waag. Sy werk ook as sielkundige, kunstenaarsbestuurder, modeontwerper en openbare spreker.
“Wat my gemotiveer het om in te skryf, was toe ek die geleentheid sien wat die kompetisie bied om te leer en ’n dieper begrip van myself te ontdek – om my uit my gemaksone gestoot te word en netwerke met ander bemagtigde vroue te bou; ook om ander deur my ervaring te inspireer en nie net persoonlik te groei nie, maar ander ook aan te moedig om te groei.”
Om ’n semifinalis te wees, is vir Ricketts ook ’n baie belangrike platform om goed van gebruik te maak.
“My doelwit as ’n Mev. Suid-Afrika-semifinalis is om ’n katalisator vir transformasie te wees.”
Van der Westhuizen is op haar beurt ook baie opgewonde oor die feit dat sy as semifinalis aangewys is. Dié ma van twee is oorspronklik van Durbanville, maar werk die afgelope ses jaar as handelsontwikkelingsbestuurder vir Hortgro in die Paarl. Sy meen ’n voormalige deelnemer aan die kompetisie, Dawn Arendse, was haar inspirasie om deel te neem. Arendse is van die Paarl.
“Ek voel baie goed dat ek aangewys is as ’n semifinalis. Ons is nou so 100 semifinaliste altesaam. Ons is aan die begin van Februarie Johannesburg toe vir ’n opedag. Ek dink toe hulle my naam genoem het, was ek baie trots. Dit was opwindend.
“Hulle doen nogal baie met vrouebemagtiging en -ontwikkelingsprogramme en werksessies. So, dit was baie opwindend dat ek hierdie platform kon gebruik om net ook terug te gee aan my gemeenskap.”
Volgens Van der Westhuizen wil sy graag gebruik maak van die platform wat sy deur die kompetisie gebied word, en ook meer lig skyn op landbou omdat sy ook in die sektor werk.
Sy sien verder daarna uit om net elke oomblik te geniet.





