Die Paarl staan weer eens vol trots nadat die Springbok Canan Moodie vir die tweede agtereenvolgende jaar as SA Rugby se jong speler van die jaar aangewys is.
Moodie is bekroon by SA Rugby se prysuitdelingsaand verlede Donderdag (14 Maart) in Johannesburg.
Die 21-jarige en boorling van die Paarl draf al sedert 2022 vir die Springbokke uit.
Hy is ’n oud-leerder van Paarl Primêre Seunskool en die Hoër Landbouskool Boland.
Hy speel ook vir die Blou Bulle as senter en vleuel.
Sy ma, Chantel Moodie, het op ’n vorige geleentheid aan Paarl Post gesê haar seun is van kleins af lief om met ’n rugbybal te speel.
“Hy was nooit ’n kind vir wie jy vir Kersfees ’n karretjie of iets anders hoef te koop nie. As sy pa hom gevra het, het hy gesê hy wil ’n rugbybal hê.
“Dit is seker in sy gene om rugby te speel. Hy is al van kleins af dol daaroor en het gedurig saam met sy broer die bal sommer in die huis geskop.”
Moodie se bydrae wat hy ook gelewer het tot die Springbokke se Rugby-Wêreldbeker-oorwinning is een van die vele redes hoekom hy die onlangse toekenning waardig is.





