Die boomslang wat in Auretstraat “gearresteer” is deur die plaaslike slangvanger Eduanne Niemand.Foto: Boland Snake Removals 24/7 and Pest Control


Die mannetjie wat inwoners van Auretstraat in die Paarl die afgelope paar weke op hul tone gehad het, is toe nie ’n Boishaaier nie, maar wel ’n boomslang.

Die plaaslike slangvanger Eduanne Niemand het die slang verlede Woensdag (13 Maart) gevang, net ’n paar huise weg van waar die slang die eerste keer in Februarie gesien is.

Niemand sê die mannetjie is nog redelik jonk, maar is al reeds 1,6 meter lank. Hy voeg by dat boomslange “taamlik bedrywig” op Paarlberg en om die huise in die nabye gebied is.

Niemand is op ’n vorige geleentheid uitgeroep om die boomslang in Auretstraat te kom vang, maar met sy aankoms was die slang skoonveld.

Hy het ’n paar dae gelede op sy Facebook-blad,Boland Snake Removals 24/7 and Pest Control, aan sy lojale volgelinge laat weet dat hy uiteindelik die mannetjie “gearresteer” het.

“Boomslange is baie menssku. Hulle het groot oë, so hulle visie is baie goed. Hulle hou maar ver van mense af en as hulle bewegings sien, dan beweeg hulle weg.

“As jy voëltjies vreeslik hoor raas of skel in ’n boom naby berggebiede, dan moet jy weet dit is dalk ’n boomslang. Die mannetjie is liggroen onder en donker bo. So, as jy van bo af kyk, uit ’n boom uit na onder, sien jy hom nie, want sy kleur vloei in met die grond en as jy van onder af kyk, pas sy groen kleure weer by die bome. Die wyfies is donker vaal of grys.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article