Soos ek die afgelope 45 jaar onthou was Maartmaand altyd die mooiste en aangenaamste tyd van die jaar in Wellington. Vir my in elk geval. Dan is die ergste hitte verby en die Suid-Oos se rumoer ook. Dis die tyd van windstil dae en anderster aande waarin jy die subtiele verandering in die natuur agterkom indien jy fyn ingestel is op die hartklop van die natuur.

Hierdie Maart voel nie soos die Maartmaande wat ek onthou nie. Dis asof die weer soms ’n geniepsigheid het met skielike temperatuurwisselinge en ’n ontevrede wind wat raas en rumoer en dan skielik is dit tjoepstil. Die wipplankryery met die wind en dag- en nagtemperature maak Maart 2024 vir my anders, maar andersins is Maartmaand dieselfde as al die voriges. Die slegte nasmaak van nog eens leë beloftes asook die gewone retoriek deur nog ’n nikswerd president gedurende nog ’n geldverterende Sona. Ook sleg die nadraai van geen hulp uit ’n bankrot staatskas nie nadat die minister weer eens krisisbestuur moes toepas met die begroting. En die nasionale sport wat net sekere landsburgers geniet, naamlik diewery, moordery, voertuigongelukke, verkragtings, mislukte munisipaliteite en staatsentiteite, het ons eerste op die wêreldranglys van misdadigheid geplaas. Die afgelope 30 jaar is hierdie alles gebore met Satan self as pa.

Dit alles word in die atmosfeer losgelaat en omdat die kern daarvan boos is, is dit dus geen wonder dat die natuur ook rebelleer nie. Soms wil-wil die wêreldse vieslikhede my beroof van my duur verworwe vrede. Dis dan dat ek moet sterk staan om nie deur swaarkaliber swetswoorde die atmosfeer verder te besoedel nie.

Dis hoekom ek liefs teruggaan na ’n Maartmaand in my ongekompliseerde kinderdae in die Boesmaland. Rustig en vredevol was dit, maar nie oningelig en afgesonderd nie. My ouers het alle kommunikasiemiddele wat daai tyd beskikbaar was, gebruik; telefoon, koerante, tydskrifte en die radio. Ons het geweet van belangrike land- en wêreldgebeure. Daarom weet ek hierdie duisternis waarmee die nuwe Suid-Afrika ons toevou, was toe nie eens in iemand se wildste drome nie.

Van al die lekker goed te doen en vreugdetye was die lekkerste die inlywing op ’n jong ouderdom in bakkie en motor bestuur asook trekker ry. Dit was hoedat dit was vir plaaskinders daar. My broer was piepjonk toe hy die 1953-model Java kon ry en my geleer het hoedat ’n passasier agterop moet sit vir gemak en veiligheid van albei. Wat ’n heerlikheid toe ons daarmee by ons familie, agt myl ver, kon gaan kuier. Hy toe elf. Ek veertien.

G’n niks spesiale motorfiets- uitrustings nie. Ons kortbroeke en kortmouhemde en geen kop- of been beskutting nie was perfek. Ons het egter gevoel sonbrille is ’n noodsaaklikheid. Die keuse was maklik, want daar was net sy kleutertyd se klein pienkraam brilletjie, gekoop tydens ’n Gordonsbaai-vakansie en mamma s’n, uit dieselfde era en dit pas! Terloops, ek was die enigste meisie in daai wêreld wat kortbroek gedra het en welmenende bure het my ma daaroor “aangespreek” omdat dit sondig en skandalig is. (Ook maar goed hulle is al almal dood, want vandag s’n is regtig skandalig en afstootlik in voorkoms by sommige figure.) My ouma se Ierse bloed het daaroor gekook en toe maak sy sommer nog twee vir my.

Ons wegtrek se manhaftigheid en selftevredenheid het net oor die eerste bult begin kwyn. By die eerste hek besin ons oor die moontlike gevare op die trip – ratels, pofadderslange, die beduiwelde alleenloper-volstruismannetjie van my oom en Jan Dennies se spook.

Ons elimineer die gevare een vir een: Ratels sal skrik vir die motorfiets se geraas en sal dus nie ons hakskeensenings afbyt, soos ons vertel is nie. ’n Pofadder in die wielspoor sal Boetie raaksien en hom misry. Die motorfiets se geraas sal die volstruismannetjie ook afskrik en spoke spook net snags.

Hierna is alles lekker en die kuier by ons neefs en niggies stop eers met ’n effe staan-sonnetjie wat vinnig verdwyn op pad huis toe. Ons sien sleg en mis ’n hek net-net. Die woeste stop laat ons bewerig afklim. Dis so anderster donker en ons verstaan nie hoekom die ligte so dof is nie en ek dink aan Jan Dennies wat spook . . . dis of my hare rys en toe ek daaraan voel kry ek die antwoord op die duisternis. Ons sonbrille.

In die herinneringe is verskeie lewenslesse versteek: ’n Mens beplan jou reis en kyk met die regte bril na die wêreld. Maak seker dat jy weet waarheen jy op pad is. Sorg dat jou medereisigers veilig en gemaklik is, want dan is dit vir almal lekker. Wees voorbereid op moontlike probleme. Foute is onvermydelik; erken dit en herstel dit onmiddellik. Voldoen aan realistiese verwagtinge. Respekteer en pas ander se eiendom op. Ons is verantwoordelik vir mekaar se welsyn. Goeie verhoudings is belangrik en kos werk.

Niks van dit weet, doen of verstaan die regering en grootste deel van die Suid-Afrikaanse bevolking nie. Daarom sal al die ander wat hierop volg, dieselfde wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article