Daniel Botha (17) in die hospitaal in Johannesburg ná die fratsongeluk. Foto: Hoër Jongenskool Paarl Boys’ High School/ Facebook


Daniel Botha (17), ’n matriekleerder aan die Hoër Jongenskool Paarl, het tydens ’n fratsongeluk die afgelope Vrydag (22 Maart) met ’n hokkiestok wonderbaarlik oorleef nadat hy bygebring moes word.

Hy het sy skool tydens ’n hokkietoer na Johannesburg verteenwoordig, waar hy tydens ’n wedstryd ’n hou teen die borskas met ’n hokkiestok oorleef het.

Volgens hom het ’n hokkiespeler van die Johannesburgse span gereed gemaak om die bal te slaan, maar het mis gekorrel en eerder na ’n grashalm gehap, waarna sy hokkiestok deur die lug gevlieg het, en vir Daniel teen die borskas getref het.

Ná die voorval het sy hart gaan staan en hy het ophou asemhaal weens die enorme impak, waarna hy toe inmekaar gesak het.

Mediese personeel het dadelik ingespring om Daniel te red, en ná ongeveer 30 sekondes tot ’n minuut van resussitasie het Daniel weer sy oë oopgemaak.

Daarna het hy ongeveer ’n halfuur gewag om met die ambulans na die Life Fourways-hospitaal vervoer te word sodat hy daar verder behandel kon word.

’n CT-skandering het gewys Daniel het erge hart-, long- en lugpypkontusie opgedoen, en volgens Jacques Botha, Daniel se pa, kan dié beserings toegeskryf word aan die impak van die slag op sy bors.

“Sy hart het ’n kneusplek, of bloukol [weens die impak van die hokkiestok] opgedoen, wat veroorsaak het dat sy hartspier toegeslaan het, en sy hartklop gestop het,” volgens Jacques.

Daniel het vertel dat hy daar een nag in die noodsorgeenheid deurgebring het vir observasie, en is toe die groenlig gegee om tuis te gaan aansterk.

“Die hokkiespanbestuurder het gereeld na my toe gekom om te kyk of ek oukei is,” volgens Daniel, wat gesê het dat hy dit “baie waardeer” het.

Daniel Botha (17; links) saam met Roan Janse van Rensburg, lid van die hokkiespan se bestuur en ’n onderwyser by die Hoër Jongenskool Paarl, wat Daniel bygestaan het. Foto: Hoër Jongenskool Paarl Boys’ High School/ Facebook

“My spanmaats was geskok, en nadat dit [die voorval] plaasgevind het, is die wedstryd heeltemal gestop.”

Volgens Daniel was daar ongeveer ses minute speeltyd oor.

“Ek voel nou beter as Vrydag,” het hy telefonies aan Paarl Post gesê.

“Ek het [ná die voorval] ’n skerp pyn in my bors gevoel en toe onthou ek dat ek wakker geword het met ’n klomp mense om my.”

Tans herstel Daniel verder by sy ouerhuis, en vat dinge vir eers rustig sodat sy hart ten volle kan herstel.

Volgens hom kan hy met die aanvang van die tweede kwartaal op 3 April reeds skool toe gaan, maar moet eers ’n maand wag voordat hy weer op die hokkieveld uitdraf.

Volgens Daniel is dit ’n wonderwerk dat hy die ongeluk oorleef het, en te danke aan “God se handewerk”.

Hy wil ook die mediese personeel wat hom bygestaan het, asook die Hoër Jongenskool Paarl wat hom ondersteun het, bedank.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article