Die reeds gebukkende Suid-Afrikaanse verbruiker gaan binnekort weer eens ’n lelike styging in kragrekeninge ontvang.
Dít volg nadat Eskom toestemming van die Nasionale Energiereguleerder gekry om sy kragtariewe van 1 April af met 12,74% te verhoog. Dit volg ná verlede jaar se nog skerper verhoging van 18,65%.
Dus gaan die gemiddelde Suid-Afrikaanse huishouding wat sy elektrisiteit regstreeks van Eskom koop van April tot R480 maandeliks ekstra vir sy krag betaal.
Dit kom neer op R5 760 meer per jaar, volgens Jean-Philippe Ghyoot, sakedirekteur van Alumo Energy.
Munisipale kragtariewe word eers op 1 Julie verhoog, maar dis nog nie duidelik met hoeveel die tariewe verhoog sal word nie.
Gewoonlik verskil dit nie veel van Eskom se verhoging nie, want die munisipaliteite moet die krag by Eskom aankoop teen sy hoër tariewe en moet die ekstra koste van sy munisipale kliënte verhaal.
Ghyoot voer aan ’n goed ontwerpte sonkragstelsel kan minstens 65% op kragrekeninge spaar, en as die betrokke huishouding drie jaar gelede al ’n sonkragstelsel aangeskaf het, sou hy sowat R43 000 aan kragkoste kon bespaar het.
Hy wys daarop dat Suid-Afrikaanse verbruikers tans 250% meer vir elektrisiteit betaal as die gemiddelde Nigeriër.
In Zimbabwe kos krag 97% minder en slegs nege ander lande in Afrika het hoër kragtariewe as Suid-Afrika. Dit is as die komende tariefstygings nie in berekening gebring is nie.
Volgens Ghyoot is die punt reeds verbygesteek waar gevra word of rugsteunkrag geïnstalleer moet word. Gegewe die beurtkrag waaronder Suid-Afrikaners ly, tesame met volgehoue skerp prysstygings, is dit nie meer ’n kwessie van óf alternatiewe kragoplossings nodig is nie, maar wanneer.
“Die koste van alternatiewe kragoplossings het die afgelope paar jaar stabiel gebly terwyl kragpryse skerp gestyg het. Die kostevoordeel leun steeds oor na alternatiewe kragoplossings as ’n langtermynbelegging,” sê hy.





