Die departement van arbeid in die Paarl is weer onder die vergrootglas geplaas toe ’n groep vroue die afgelope Vrydag (22 Maart) buite die gebou in Breda-straat oor swak dienslewering betoog het.
Die groep vroue is verbonde aan Women on Farms, ’n organisasie sonder winsoogmerk, en veg vir beter dienslewering vir veral vroue wat vir dae lank in die ry moet staan om hul uitbetalings van hul werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) te ontvang.
Volgens Katrina Claasen, wat namens die groep vroue gepraat het, was daar menige male vroue wat oornag in die ry moes staan en dus daar moes slaap om sodoende te verseker dat hulle hul geld betyds ontvang. Dit het die geleentheid geskep vir die vroue om onder geslagsgeweld deur te loop, met van hulle wat of beroof of fisiek en seksueel aangerand word.
‘Verbeteringe aan stelsel’
Volgens Claasen neem die Paarlse tak van die departement van arbeid nie hierdie bekommernisse in ag nie, en gee dié tak selde ’n rede hoekom die ontvangers van die WVF-geld nie gehelp kan word nie.
Claasen wou weet wanneer die Paarlse afdeling van die departement van arbeid hierdie probleme die hoof sal bied en verantwoordelikheid vir hul beweerde swak diens neem.
Volgens Jason Lloyd, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van arbeid, is die departement bewus van die optog.
“Die departement van arbeid is deurlopend besig om verbeteringe aan die WVF-stelsel aan te bring, maar dit kan van lyn af gaan, wat dienste daagliks [kan] beperk,” sê hy.
Lloyd het egter nie verduidelik presies watter verbeteringe aangebring word of hoekom die stelsel van lyn af gaan nie.
Beurtkrag kry skuld
Probleme met die stelsel, hetsy dit van die departement van arbeid, of binnelandse sake is, word oor die land heen aan beurtkrag toegeskryf – en só ook by die Paarlse tak van die departement van arbeid.
Die Paarl Post het ’n navraag gerig aan die departement met hul planne om die gevolge van beurtkrag op die stelsel te bekamp, maar die vraag bly onbeantwoord.
Die koerant het ’n jaar gelede oor die stand van sake by dié omstrede kantoor berig en dit blyk dienslewering hier bly onveranderd.
Lloyd het die volgende inligting rakende WVF-aansoeke verskaf:. Die departement doen ’n beroep op kliënte om van die aanlyn stelsels gebruik te maak, eerder as om by kantore te moet toustaan;. Aansoeke kan by www.ufiling.gov.za ingedien word;. Om die status van ’n WVF-voordele-eis na te gaan en/of ’n betalingsvorm in te dien, kan kliënte *134*843# skakel (geen lugtyd of data word benodig nie); en. Die Paarlse tak van die departement van arbeid lewer maandeliks dienste by onder andere Villiersdorp, Franschhoek, Malmesbury, Moorreesburg, Cloetesville, Riebeeck-Kasteel, Gouda, Saron en Porterville. Daar is ook satellietkantore by Ceres en Goodwood.
Die Paarlse tak van die departement van arbeid se kantoor is elke weeksdag van 07:30 tot 16:00 oop.





